Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Oliestorting lei tot die sluiting van ‘n besige roete in Johannesburg
# Suid-Afrika se kragnetwerk moet oor 25 jaar jaarliks meer as vyf-gigawatt hernubare krag byvoeg
# En, Olimpiese Spele: Talle Suid-Afrikaners is vandag in aksie in Parys
# Motoriste word gewys op ‘n oliestorting op die N1 Noord na die Diepkloof-wisselaar in Soweto, Gauteng. Die woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie, Xolani Fihla, sê alle bane is gesluit en verkeer word na die afrit na Randse Skou-weg herlei. Hy waarsku motoriste om aansienlike vertragings te wagte te wees:
# Suid-Afrika se kragnetwerk moet uitgebrei word om vir die volgende 25 jaar jaarliks meer as vyf-gigawatt hernubare krag aan die netwerk te koppel. Só sê die besturende direkteur van Meridian Economics, Grové Steyn, wat raad voorsien oor die energie- en infrastruktuur-ekonomie. Steyn sê Suid-Afrika het private beleggings nodig om die Nasionale Transmissiemaatskappy Suid-Afrika se beleggings aan te vul. Hy sê ‘n toegewyde verkrygingseenheid soos die kantoor van die Onafhanklike Kragprodusente moet ook geskep word.
# Die GOOD-party het Axolile Notywala van RISE Mzansi aangestel as die party se raadslid in Kaapstad. Hy was voorheen nasionale sameroeper vir die Right2Know-veldtog en hoofsekretaris van die Social Justice Coalition. Hy was ook RISE Mzansi se premierskandidaat vir die Wes-Kaap. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê Notywala deel die party se voorkeure wat maatskaplike, ruimtelike, omgewings- en ekonomiese geregtigheid betref:
# Olimpiese Spele: Talle Suid-Afrikaners is vandag in aksie in Parys. Brian Raats ding mee in die kwalifiserende ronde van die mans-hoogspring, en Marione Fourie in die uitdunne van die vroue-100-meter-hekkies. Jo-Ané van Dyk gaan probeer kwalifiseer vir die eindronde van die vroue-spiesgooi, Edmund du Plessis neem deel aan die mans-800-meter-uitdunne en Miranda Coetzee aan die halfeindronde van die 400-meter vir vroue. Shaun Maswanganyi en Wayde van Niekerk ding mee in die halfeindronde van die mans-200-meter.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-34-sent teen die dollar, 20-rand-2-sent teen die euro en 23-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-388-dollar-81-sent. Die prys van goud is twee-duisend-395-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-67-sent per vat.
# En ten slotte: Die pa en seun-span, Eugene en Dan Levy, onderhandel volgens berigte om die 15de van volgende maand die 76ste Emmy-toekennings aan te bied in die Peacock-teater in Los Angeles. Hulle het voorheen al toekenningseremonies saam aangebied, onder meer 2020 se SAG-toekennings, en was een keer gasaanbieders van die Ellen Show. Die Levy’s is veral bekend as skeppers van die komediereeks Schitt’s Creek, wat 15 Emmy-benoemings ontvang het vir sy laaste seisoen in 2020. Shogun van FX het ‘n rekord van 25-benoemings in vanjaar se Emmys.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….