Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering sê infrastruktuur-belegging is noodsaaklik
# Gauteng het ‘n nuwe inkomste-plan vir e-tolskuld
# En, die Olimpiese Spele: Parys aanskou ‘n merkwaardige 100-meter eindwedloop
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, sê infrastruktuurbeleggings is noodsaaklik om meer werksgeleenthede vir Suid-Afrikaners te skep. President Cyril Ramaphosa het verlede maand onthul die regering van nasionale eenheid sal ekonomiese groei voorop stel deur strukturele hervorming, die herstel van swakbestuurde plaaslike owerhede, die verwydering van rompslomp, en die bevordering van infrastruktuurbeleggings. Macpherson sê werkskepping kry voorkeur:
# Die Gautengse regering wil ‘n nuwe inkomste-strategie gebruik om sy skuld van 17-miljard-rand aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap vir die Gautengse Snelwegverbeteringsprojek te vereffen. Die Nasionale Tesourie en die provinsiale regering het ʼn ooreenkoms bereik en die e-tolstelsel is in April afgeskakel en geskrap. Die LUR vir Finansies, Lebogang Maile, sê hulle wil Gauteng se 30-persent van Sanral se projek-skuld en rente betaal deur geld in te samel om in infrastruktuur te belê eerder as om die terugbetaling van skuld te finansier.
# Die vakbond Nehawu het na ‘n staking van twee weke ‘n ooreenkoms met die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde bereik. Werkers het begin staak na die maatskappy sy indiensnemingsvoorwaardes sonder oorlegpleging verander het, insluitend ‘n nuwe betalingstruktuur. Nehawu sê die partye het ooreengekom op ‘n jaarlikse salarisverhoging op ‘n glyskaal van 5,8- tot vier-persent en ‘n behuisingstoelaag. Die vakbond sê werkers sal ook in aanmerking kom vir ‘n eenmalige gratifikasiebetaling van 25-duisend rand.
# ‘n Vyfjarige seun is op ‘n Amerikaanse bofbalstadion dood toe ‘n rukwind ‘n springkasteel die lug ingestuur het, met kinders binne-in. Die nooddienste is ontbied na die stadion in Waldorf, Maryland, nadat die springkasteel sowat vier- tot ses-meter hoog opgelig is. Van die kinders het uitgeval en het op die bofbalveld geland voor die springkasteel kon land. Twee kinders is per helikopter hospitaal toe geneem. Die vyfjarige seun is later die aand dood verklaar. Die tweede kind se beserings is nie ernstig nie.
# Olimpiese Spele: Parys het een van die merkwaardigste Olimpiese 100-meter-naellope ooit aanskou. Noah Lyles het sy eerste Olimpiese goue medalje gewen toe hy die wenstreep in slegs ‘n vyduisendste van ‘n sekonde voor Kishane Thompson van Jamaika oorgesteek het. Die Amerikaner se wentyd was 9,79-sekondes, terwyl ál agt deelnemers binne 0,12 sekondes van die goue medalje geëindig het. Dit was ook die eerte keer dat agt mans onder tien sekondes gehardloop het, wat dit die vinnigste wedloop ooit maak. Lyles sê dit was ongelooflik naelskraap:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-53-sent teen die dollar, 20-rand-30-sent teen die euro en 23-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 52-duisend-593-dollar-15-sent. Die prys van goud is twee-duisend-421-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….