Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Action Society vra die Parlement om toesig te hou oor die polisiewaghond te midde van kommer oor politieke misbruik
# Die minister van Verdediging wag op ‘n volledige verslag oor die Libiese militêre opleidingsbewerings
# En, Olimpiese Spele: ‘n Chinese tennisspeler oorweldig die wêreld nommer een om die eindronde te haal
# Action Society waarsku dat die nuwe Wet op die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat steeds polities misbruik kan word. Die groep wil hê Opod moet ‘n Artikel 9-instelling word om werklik onafhanklik te wees. Hulle sê die minister van Polisie kan ingevolge die wet Opod se uitvoerende direkteur dissiplineer. Action Society se woordvoerder, Juanita du Preez, het die Parlement gevra om te sorg dat Opod sy onafhanklikheid behou en politieke inmenging te verhoed:
# Die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, sê sy wag op ‘n volledige verslag oor die beweerde militêre opleiding van 95 Libiërs in Mpumalanga. Die Libiërs is sedertdien in aanhouding en beweer hulle is opgelei as sekerheidswagte. Volgens eNCA het die minister op die vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee gesê dat ‘n verslag volg sodra ondersoeke afgehandel is:
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, sê ‘n beduidende daling in renosterstropery in Mei en Junie kan toegeskryf word aan ‘n veldtog in KwaZulu-Natal om die diere te onthoring. Landwyd is 21 en 22 renosters in die onderskeie maande gestroop teenoor 42 en 34 verlede jaar. George sê die departement is tans besig om die raadplegingsproses vir die publisering van die hersiene bioverskeidenheids-bestuursplan vir swart- en witrenosters te finaliseer sodat dit in werking gestel kan word.
# Die maatskappy te midde van verlede maand se wêreldwye IT-onderbreking word deur verskeie van sy aandeelhouers gedagvaar. Prokureurs voer aan die kuberveiligheidsmaatskappy CrowdStrike het beleggers bedrieg deur te swyg oor foute in sy sagtewaretoetse. Dit volg nadat ‘n sagteware-opdatering op 19 Julie tot die ineenstorting van agt-miljoen rekenaars gelei het. Dit het duisende ondernemings wêreldwyd geraak en ontwrigting op lughawens en in banke, hospitale en by uitsaaiers veroorsaak. Die prokureurs sê die firma se waarborge oor sy tegnologie was vals en misleidend.
# Olimpiese Spele: Die Chinese tennisspeler Zheng Qinqen gaan môre meeding om goud nadat sy die wêreld nommer een, Iga Swiatek, uitgeknikker het in die halfeindronde in Parys. Die 22-jarige, nommer sewe op die wêreldranglys, het die Poolse speler in skoon stelle verslaan nadat sy ‘n gewese nommer een, Angelique Kerber van Duitsland, in die kwarteindronde uitgeskakel het. Zheng speel in die eindstryd teen Donna Vekic van Kroasië, wat Anna Karolina Schmiedlova van Slowakye in die ander halfeindstryd verslaan het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-20-sent teen die dollar, 19-rand-71-sent teen die euro en 23-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-374-dollar-40-sent. Die prys van goud is twee-duisend-463-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….