Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 29 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# TotalEnergies onttrek van die gasvelde aan die Suid-Afrikaanse kus
# Minister Meth verwelkom die bekragtiging van die Wysigingswetsontwerp op Maatskappye
# En, die Olimpiese Spele: Driekamp se swemskof kan dalk afgestel word weens die Seine-rivier se swak watergehalte
# Die Franse oliereus, TotalEnergies, het bekendgemaak hy onttrek van twee aflandige gasvelde in Suid-Afrika aangesien dit oënskynlik nie ekonomies lewensvatbaar is nie. ‘n Filiaal van TotalEnergies besit ‘n 45-persent-aandeel in ‘n gebied teenaan die land se suidelike kus waar die velde, Brulpadda en Luiperd, ontdek is. Volgens TotalEnergies kon dit nie in ‘n kommersiële ontwikkeling omskep word nie aangesien dit wil voorkom asof dit te veel van ‘n uitdaging sou wees om hierdie gasontdekkings ekonomies te ontwikkel vir die Suid-Afrikaanse mark.
# Die minister van Indiensneming en Arbeid, Nomakhosazana Meth, het die bekragtiging van die Wysigingswetsontwerp op Maatskappye verwelkom. Die wet is daarop gemik om maatskappyewet duideliker, meer gebruikersvriendelik en minder omslagtig te maak wat sakebedrywighede betref. Die departement se woordvoerder, Teboho Thejane, sê die wet gee aandag aan openbare kommer oor hoë vlakke van ongelykheid deur senior uitvoerende gesag se vergoeding beter bekend te maak:
# Die Kommissie vir Geslagsgelykheid sê regter Mandisa Maya se aanstelling as hoofregter is ‘n aansienlike stap om te verseker dat meer vroue vir senior poste op die regbank oorweeg word. Die voorsitter van diie kommissie, Nthabiseng Sepanya-Mogale, sê hulle het in 2016 ‘n verslag met die titel Geslagstransformasie in die Regstelsel, bekendgestel. Sepanya-Mogale sê die verslag het onder meer die gebrek aan geslags-hervorming gekritiseer:
# Olimpiese Spele: Voorbereiding vir die driekamp is die tweede agtereenvolgende dag afgestel weens besoedeling in die Seine-rivier in Parys. Die organiseerders en Wêreld-driekamp sê toetse toon die watergehalte is nie op standaard nie. Die mans se driekamp is veronderstel om môre te begin. Indien die watergehalte nie verbeter nie, sal die swemskof tot later die week uitgestel word, of dan afgestel word as dit nie kan voortgaan nie. Die watergehalte was goed totdat swaar reën dit die naweek verswak het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 23-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-510-dollar-12-sent. Die prys van goud is twee-duisend-392-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-4-sent per vat.
# En ten slotte: Suid-Afrikaanse studente stroom volgens berigte na universiteite in die Verenigde Koninkryk ondanks hoë koste, en vyf-duisend-240 het tussen 2019 en ’22 daar ingeskryf. Die Universiteit van Birmingham bied 40-persent afslag op klasgeld by sy Dubaise kampus, wat die koste op 396-duisend-rand teenoor 660-duisend-rand te staan bring. In teenstelling daarmee beloop klasgeld by die Universiteit van Pretoria tussen 55- en 62-duisend-rand. Universiteite soos Birmingham, Bradford en Manchester Metropolitan beleef toenemende belangstelling en bied afslag en beurse om Suid-Afrikaanse studente te lok.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….