Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 25 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA daag Ramaphosa se toespraak van 26 Mei in die Verkiesingshof uit
# Ramaphosa ontvang die eerste verslag oor die Stand van Klimaatoptrede
# En, krieket: Gerald Coetzee loop die toer deur die Wes-Indiese Eilande mis
# Die DA verskyn vandag voor die Verkiesingshof in ‘n saak teen president Cyril Ramaphosa, na sy toespraak aan die land kort voor die algemene verkiesing in Mei. Die woordvoerder van die DA, Karabo Khakhau, sê die party is van mening die president se toespraak het inhoud bevat wat die misbruik van ʼn staatsinstelling was vir partypolitieke doeleindes. Die DA glo dit was onder andere ‘n oortreding van die Verkiesingsgedragskode en Ramaphosa was verplig om dit te eerbiedig.
Ramaphosa ontvang intussen vandag in Johannesburg die eerste Stand van Klimaatsoptrede-verslag van die Presidensiële Klimaatskommissie. Dit bied ‘n gedetailleerde ontleding van die uitwerking van klimaatsverandering en Suid-Afrika se vordering om aardverwarming tot 1,5-grade Celcius te beperk. Dit belig ook die suksesse en gebiede waarop verbeter moet word, veral die lewensbehoeftes van diegene wat die meeste deur klimaatsverandering geraak word. Die kommissie het ten doel om beleidsmakers en die publiek in te lig oor die dringende stappe wat nodig is om die uitwerking van klimaatsverandering te versag.
# Die Gautengse polisie waarsku alle Uber- en Bolt-bestuurders om nie enige versoeke te aanvaar of mense op te laai in Eldoradopark nie. Dit volg op ‘n stemnota op sosiale media oor bewerings dat die bestuurders aangeval sal word. Woordvoerder Fezeka Khobo sê dit is die gevolg van ‘n voorval twee weke gelede toe ‘n Uber-bestuurder drie mans geskiet het wat hom wou beroof:
# Die eerste minister van Lesotho, Sam Matekane, vra humanitêre bestand met 700-duisend mense wat ly onder uiterste hongersnood. Die woordvoerder, Thapeli Mabote, sê ‘n nasionale voedselonsekerheids-ramptoestand is tot Maart 2025 verklaar. Mabote het op Newzroom Afrika gesê die ernstige El Nino-droogte is ‘n bydraende faktor. Hy sê Lesotho het dringend 1,2-miljard-rand nodig om die krisis aan te pak:
# Krieket: Die Protea-snelbouler Gerald Coetzee sal volgende maand se toetsreeks teen die Wes-Indiese Eilande misloop weens ‘n besering aan sy linkersy. Die 23-jarige Coetzee het die besering vroeër die maand opgedoen terwyl hy gespeel het vir die Texas Super Kings in Major League-krieket. Die nuweling Migael Pretorius vervang hom. Die eerste toets begin op die sewende van volgende maand in Trinidad en Tobago.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-48-sent teen die dollar, 20-rand-4-sent teen die euro en 23-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-359-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-373-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….