Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa onderteken die Wetsontwerp op Klimaatsverandering
# Die MK-party se Jeugliga kritiseer AfriForum se Konstitusionele Hof-aansoek teen John Hlophe
# En, rugby: Siya Kolisi voer ‘n sterk Springbokgroep aan vir die begin van die Rugbykampioenskap
# President Cyril Ramaphosa het die Wetsontwerp op Klimaatsverandering onderteken. Dit maak voorsiening vir die ontwikkeling van doeltreffende optrede teen klimaatverandering en ‘n langtermyn, billike oorgang na ‘n lae-koolstof en klimaatveerkragtige ekonomie en samelewing. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die Wet op Klimaatsverandering is ook gemik op die verbetering van Suid-Afrika se vermoë om mettertyd kweekhuisgas-uitstralings te verminder en klimaatveerkragtigheid op te bou:
# Die MK-party se Jeugliga sê AfriForum se aansoek teen sy hoofsweep in die Parlement, John Hlophe, is ongegrond, opsetlik en irrasioneel. AfriForum het ‘n aansoek by die Konstitusionele Hof ingedien om in te gryp en die voormalige regter se aanstelling op die Regterlike Dienskommissie as irrasioneel, onwettig en ongrondwetlik te verklaar. Die liga se woordvoerder, Nkateko Mkhabela, sê die aansoek kom neer op misbruik van die hofproses:
# Die vakbondfederasie Saftu loof die inwerkingstelling van die tweepot-aftreestelsel. Dit bied aan pensioenfondslede vroeë toegang tot ‘n deel van hulle aftree-spaargeld terwyl die grootste deel vir aftrede behou word. Woordvoerder Trevor Shaku sê die stelsel bied finansiële buigsaamheid en stel werkers in staat om iets te doen aan onmiddellike behoeftes sonder om langtermyn-sekerheid in gevaar te stel:
# Rugby: Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, het ‘n sterk groep van 33 spelers onder aanvoering van die dubbele Wêreldbeker-kaptein, Siya Kolisi, aangewys vir die Rugby-kampioenskap wat op die tiende van volgende maand in Brisbane teen die Wallabies afskop. Twee-en-twintig van die spelers is Wêreldbeker-wenners, terwyl vyf wat vanjaar hulle debuut gemaak het, ook ingesluit is – Jan-Hendrik Wessels, Johan Grobbelaar, Sacha Feinberg-Mngomezulu, Ben-Jason Dixon en Morné van den Berg. Daar is ook ‘n terugkeer vir die slot Ruan Nortjé, wat sy Springbok-debuut in 2022 teen Wallis gemaak het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-96-sent teen die euro en 23-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-836-dollar-63-sent. Die prys van goud is twee-duisend-406-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-69-sent per vat.
# En ten slotte: Natuurlewe-misdaad, veral vetplant-diefstal, neem toe in die Wes-Kaap. Die provinsie is die tuiste van meer as 52-persent van Suid-Afrika se blomspesies. Dit maak die provinsie ‘n gewilde teiken vir onwettige vetplant-handel, veral na Oos-Asië. Volgens 2023 se Stand van Bioverskeidenheids-verslag het 38-persent van die gevalle in 2022/23 met vetplant-diefstal verband gehou. Cape Nature sê hy het as deel van ʼn geïntegreerde reaksie ʼn projek begin om onwettige handel in vetplante en ernstige natuurlewe-misdaad te bekamp.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….