Nuus 13:00
BULLETIN 2 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# SAFTU doen ‘n beroep op Ramaphosa om ‘n nasionale noodvergadering te belê oor Trump se tariewe
# Ongeveer ‘n duisend onwettige immigrante is by ‘n Barberton-myn in hegtenis geneem
# En swem: Pieter Coetzé is deur na die halfeindronde van die 50-meter rugslag
# Saftu doen ‘n beroep op president Cyril Ramaphosa om ‘n nasionale noodvergadering te belê om die besluit van president Donald Trump te bespreek om ‘n straftarief van 30-persent op Suid-Afrikaanse uitvoere in te stel. Saftu se woordvoerder, Asive Dyani, sê Ramaphosa moet uiteenlopende handel bespoedig, die vryhandelsgebied van die Afrika-vasteland ten volle benut en ekonomiese bande sluit met Latyns-Amerika, Asië en die Globale Suide:
# Nagenoeg eenduisend onwettige immigrante is gister by ‘n myn in Barberton, Mpumalanga, in hegtenis geneem. Polisiewoordvoerder, Donald Mdhluli, sê ‘n aantal wetstoepassingsagentskappe het van Maandag af saamgewerk aan Operasie Vala Umgodi. Hy sê daar is toegeslaan op onwettige mynboubedrywighede en onwettige mynwerkers is na die oppervlak gedwing. Die verdagtes kan moontlik ingevolge die Immigrasiewet aangekla word asook aanklagte wat verband hou met onwettige mynbou en betreding. Nog aanklagte kan bygevoeg word soos die ondersoek voortduur.
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube is die hoofspreker by Kaapstad se Vroeë Kinderontwikkelingsindaba lewer, met adjunkburgemeester Eddie Andrews wat die gasheer is. Die indaba fokus op nakomingsondersteuning vir vroeë kinderontwikkelingsentrums in behoeftige gemeenskappe. Dit volg na die hersiening van die Stad se Munisipale Beplanningsverordening, wat daarop mik om nakoming te vergemaklik. Gwarube sal ook aan ‘n paneelbespreking deelneem om vennootskappe tussen geakkrediteerde sentrums en die departement te ondersoek.
# AfriForum het die omgewingsimpakstudie vir die voorgestelde Tenboschmyn naby die Nasionale Krugerwildtuin as gebrekkig en ondeursigtig beskryf. Tydens ‘n openbare vergadering in Marloth Park, is die konsultant Kimopax gekritiseer omdat hulle nie belangrike regsvrae kon antwoord nie en nie kon bewys lewer van goedkeuring deur die Departement Minerale Bronne nie. Lambert de Klerk van AfriForum sê die proses oortree omgewingswette en bedreig een van Afrika se mees lewensbelangrike ekostelsels:
# Swem: Die Suid-Afrikaanse swemsensasie Pieter Coetzé is deur na die halfeindronde van die 50-meter rugslag by die 2025 Wêreld-waterkampioenskap in Singapoer. Hy het eerste in sy uitdun geëindig in ‘n tyd van 24,36 sekondes en was die tweede vinnigste kwalifiseerder vir die halfeindronde. Coetzé het twee dae gelede die goue medalje in die 100-meter rugslag gewen en dit Vrydag opgevolg met ‘n Afrika-rekord en ‘n silwermedalje in die 200-meter rugslag.
# En ten slotte: Wetenskaplikes het ‘n nuwe stokinsek-spesie, wat hulle glo die swaarste ooit in die land is, ontdek in ‘n afgeleë reënwoud in Australië, wat die tuiste is van dodelike slange, spinnekoppe en ander grillerige gediertes. Die nuwe spesie weeg 44 gram, ongeveer dieselfde as ‘n gholfbal, en is 40 sentimeter lank. Navorsers aan die James Cook Universiteit het gesê die insek se grootte is dalk ‘n evolusie-reaksie op sy koel, nat habitat. Die nuwe stokinsek is ontdek in die blaredakke van die bergagtige nat tropiese streek van die verre noorde van Queensland, in die noordooste van Australië.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….