Nuus 13:00
BULLETIN 19 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Wêreldwye IT-onderbreking belemmer TV-kanale, lughawens en banke
# Tax Justice South Africa sê die Wes-Kaap is die spilpunt van die onwettige tabakbedryf
# En die Wêreldrugby Onder 20-kampioenskap eindig vandag in Kaapstad
# ‘n Reuse-inligtingstegnologie-onderbreking het televisiekanale, lughawens en banke wêreldwyd ontwrig en veroorsaak dat Microsoft Windows-rekenaars afgesluit het. Downdetector het probleme met Microsoft se toepassings, bankwebtuistes, en lughawens se toepassings aangemeld. Kubersekerheids-kundiges vermoed Crowdstrike se teen-virus-sagteware is die oorsaak en beskryf dit as die grootste onderbreking in die geskiedenis. Dit sluit in ‘n “blouskerm-fout” met bedieners, en toestelle wat vries. Suid-Afrika word ook geraak, terwyl Australië, Nieu-Seeland, Indië, Japan en die Verenigde Koninkryk waarskynlik die ergste benadeel word.
# Die EFF sê die Suid-Afrikaanse Reserwebank se bot benadering tot monetêre beleid is uiters konserwatief en bevoordeel die finansiële sektor. Dit volg nadat die bank se monetêre beleidskomitee die terugkoopkoers onveranderd gelaat het op 8,25-persent. Dit is nou al langer as ‘n jaar dieselfde. Die EFF sê die regering se versuim om praktiese, betroubare en doeltreffende ekonomiese maatreëls in te stel het gelei tot rampspoedige vlakke van werkloosheid, armoede en misdaad.
Die vakbondfederasie Saftu sê intussen die voortgesette hoë rentekoerse kniehalter ekonomiese groei en benadeel verbruikers. Woordvoerder Trevor Shaku sê die land se huidige ekonomiese landskap word gekenmerk deur werksverliese, salarisverskille en hoë rentekoerse. Hy sê die werkersklas loop die ergste deur onder hierdie finansiële uitdagings:
# Die Wes-Kaap het die middelpunt van Suid-Afrika se ongebreidelde onwettige tabakhandel geword en drie uit elke vier winkels verkoop sigarette wat belasting ontduik. Dit is volgens die wêreldleier in marknavorsing, Ipsos. Tax Justice SA se stigter, Yusuf Abramjee, sê meer as die helfte van die onwettige aankope in die navorsing word verbind met maatskappye wat tans die wet uitdaag wat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens die reg gee om kringtelevisiekameras in hul fabrieke aan te bring:
# Wêreldrugby se Onder 20-kampioenskap wat deur Stad Kaapstad ondersteun word, word vandag op die Kaapstad- en die Athlone-stadion afgesluit. Die toernooi van 24 wedstryde het die afgelope drie weke plaasgevind. Die Junior Springbokke skop die aksie af wanneer hulle vanmiddag twee-uur met Wallis kragte meet vir die sewende plek. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê die kampioenskapswedstryd tussen Frankryk en Engeland begin sewe-uur:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-96-sent teen die euro en 23-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-977-dollar-15-sent. Die prys van goud is twee-duisend-417-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….