Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 16 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Forum hoop Mchunu sal optree teen almal wat in die Zondo-kommisie se verslag uitgewys is
# Die DA druk die NVG vir ‘n tydraamwerk vir vervolgings in die Esidimeni-tragedie
# En die Duitse doelskieter Thomas Mueller kondig sy uittrede uit internasionale sokker aan
# Die Activists and Citizens Forum sê die eerste groot taak van die nuwe minister van Polisie, Senzo Mchunu, is om op te tree teen almal wat in die verslag van die Zondo-kommissie uitgewys is. Woordvoerder Dennis Bloem sê korrupsie en misdaad is die gevaarlikste vyande wat die demokrasie bedreig. Volgens hom raak misdaad almal, want niemand is meer veilig nie aangesien misdaad buite beheer is:
# Die DA in Gauteng sê hy het die volledige uitspraak van 196-bladsye oor die Life Esidimeni-ondersoek bestudeer en gaan druk uitoefen op die Nasionale Vervolgingsgesag om ‘n wye reeks aanklagte binne ‘n kort tydraamwerk uit te reik. Woordvoerder Jack Bloom sê daar is ‘n reuse-hoeveelheid getuienis wat gebruik moet word om almal te vervolg wat uitgewys is – nie slegs die voormalige LUR vir Gesondheid, Qedani Mahlangu, en die eertydse direkteur van Geestesgesondheid, Makgabo Manamela, wat aanspreeklik bevind is vir die dood van nege pasiënte nie:
# Die Verkiesingshof het ingestem tot die Verkiesingskommissie se versoek om die MK-party se saak teen die verkiesingsuitslag aan te hoor – al het die party die aansoek teruggetrek. Die OVK sê die kennisgewing van onttrekking was onregmatig en die saak moet steeds aangehoor word om die bewerings van verkiesingsknoeiery openlik voor te lê en te toets. MK beweer hy is van stemme beroof. Die saak word op 29 Julie virtueel aangehoor.
# Sokker: Die Duitse doelskieter, Thomas Mueller, het aangekondig hy hang sy stewels op na ‘n internasionale loopbaan van 14 jaar na afloop van Euro 2024. Hy het in 131 wedstryde vir die nasionale span gespeel en 45 doele aangeteken. Mueller word in September 35 en was ‘n sleutellid van die Duitse span wat in 2014 die Wêreldbeker verower het, toe hulle Argentinië in bykomende tyd verslaan het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-79-sent teen die euro en 23-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-23-dollar-57-sent. Die prys van goud is twee-duisend-438-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-19-sent per vat.
# Ten slotte: Die bekroonde sangeres Billie Eilish is die jongste bekende wat ‘n CBeebies-slaaptydstorie voorlees. Die gewilde program op die Verenigde Koninkryk se CBeebies-kanaal stel kinders bekend aan ʼn wêreld van stories deur pragtige, interaktiewe storie-ervarings. Eilish lees This Moose Belongs to Me voor deur die skrywer en illustreerder, Oliver Jeffers. Van die ander musieksterre wat ʼn CBeebies-slaaptydstorie voorlees, is Harry Styles, Elton John, Dave Grohl, Ed Sheeran en Dolly Parton.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….