Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 15 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa moedig besliste klimaatsoptrede aan teen uitdagings
# Kamera-sku sigaretvervaardigers oorheers handelsmerke wat belasting ontduik
# En, sokker: Argentinië verbeter die rekord met sy 16de Copa America-oorwinning
# President Cyril Ramaphosa vra besliste optrede om klimaatsuitdagings te hanteer. Hy het gepraat op die Klimaatsveerkragtigheidsimposium in Pretoria en die behoefte beklemtoon aan beleggings in groeninfrastruktuur en hernubare energie. Die president het die regering se pogings uitgelig met die instelling van dringende hervormings, wat ekonomiese groei stimuleer en fiskale volhoubaarheid najaag. Hy sê Operasie Vulindlela het sleutelsektore suksesvol hervorm terwyl die land mik na netto-zero uitlatings teen 2050:
# Die stigter van Tax Justice SA, Yusuf Abramjee, sê die hoofverdagtes in die multi-miljard-rand onwettige sigarethandel is die einste vervaardigers wat nou die howe vra om te keer dat die Inkomstediens hulle vervaardigings-uitset dophou. Abramjee sê ‘n omvattende studie deur die marknavorsers Ipsos toon onwettige sigarette word nou in byna twee uit elke drie winkels regoor Suid-Afrika verkoop. Hy sê dit is die hoogste vlak wat nog ooit aangeteken is:
# Die polisie sê daar is verlede week ontslae geraak van byna 15-duisend vuurwapens en dele van vuurwapens tydens ‘n vernietigingsproses in Vanderbijlpark, Gauteng. Woordvoerder Athlenda Mathe sê in Februarie is meer as 18-duisend vuurwapens en onderdele ook vernietig. Die totaal sedert 2019 is meer as 263-duisend-500. Mathe sê van die wapens is vrywillig ingehandig en ander is tydens die amnestietydperk ingegee:
# Donald Trump het in een van sy eerste onderhoude na ‘n gepoogde sluipmoord aan konserwatiewe Amerikaanse media gesê hy is gered “deur geluk of deur God”. Hy het gepraat net voor sy vlug na die komende Republikeinse nasionale konvensie in Wisconsin. Trump sê sy toespraak gaan anders wees as wat hy beplan het aangesien hy nou die geleentheid het om die land te verenig. ‘n Omstander is tydens die voorval dood terwyl twee ander mense ernstig beseer is. Die skieter, wat ook dood is, was Tomas Matthew Crooks.
# Sokker: Die wêreldkampioen, Argentinië, het Colombië een-nul verslaan op die Hard Rock-stadion in Miami om die Copa America ‘n rekord 16de keer te wen. Lautaro Martinez se wendoel in bykomende tyd het Argentinië sy derde agtereenvolgende groot titel besorg. Hulle het in 2021 die Copa America gewen en die jaar daarna die Wêreldbeker. Spel is langer as ʼn uur vertraag terwyl duisende ondersteuners sonder kaartjies probeer het om die uitverkoopte stadion met geweld binne te gaan. Wedstryde gaan ook in 2026 se Wêreldbekertoernooi gehou word in die stadion, wat 65-duisend toeskouers kan huisves.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-8-sent teen die dollar, 19-rand-73-sent teen die euro en 23-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-685-dollar-31-sent. Die prys van goud is twee-duisend-411-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….