Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement gaan die uitkenning van 12 leerders en hulle minibusbestuurder versnel
# Cosatu verwelkom die gewese voorsitter van VBS Mutual Bank se vonnis
# En, rugby: Die Bokke stel nege spelers vry vir hulle Curriebekerspanne
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement gaan begin met die uitkenningsproses van twaalf leerders en ‘n minibusbestuurder wat gister op pad skool toe dood is in ‘n botsing in Merafong, Carletonville. DNS-toetse sal begin omdat sommige van die slagoffers onherkenbaar verbrand het. ‘n Bakkie het die skoolvervoervoertuig getref, wat dit laat omslaan en aan die brand slaan het. Elf leerders van Rocklands Primary School en een van die Laerskool Blyvooruitsig is dood. Nog sewe sterk in die hospitaal aan.
# Die vakbondfederasie Cosatu verwelkom die vonnis van die gewese voorsitter van VBS Mutual Bank, Tshifhiwa Matodzi. Die Hooggeregshof in Pretoria het hom 15 jaar tronkstraf opgelê vir diefstal, bedrog, geldwassery en afpersing wat tot die bank se ineenstorting gelei het. Byna twee-miljard-rand is by VBS geplunder. Cosatu se voorsitter, Zanele Sabela, sê Matodzi het erken hy was gierig omdat hy reeds ‘n gemaklike lewe as geoktrooieerde rekenmeester gelei het:
# Green Connection sê Eskom se voortdurende prysverhogings beteken elektrisiteit word vir al meer mense onbekostigbaar. ‘n Tariefverhoging van 12,75-persent het in April in werking getree. Liziwe McDaid van Green Connection sê ‘n deel van die probleem is die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika het nie die metodologie van die tariewe hersien nie, wat dringend moet verander:
# Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het die onlangse geweldsmisdade teen bejaardes oral in die land veroordeel. Dit sluit in die moord op ‘n bejaarde inwoner en bewerings van verkragting by die Ipeleng Bagodi-tehuis vir bejaardes in Noordwes, en die aanranding van ‘n bejaarde vrou, na bewering deur haar 19-jarige kleinseun, in die Wes-Kaap. Die kommissie sê dis ontstellend dat ouer persone mishandeling ervaar van mense in hulle gemeenskappe wat ondersteuning en beskerming behoort te bied.
# Rugby: Springbokafrigter Rassie Erasmus het nege spelers vir hulle provinsiale unies vrygestel omdat hulle nie betrokke is by Saterdag se reeksbeslissende toets teen Ierland nie. Almal sal Sondag terugkeer voor volgende naweek se toets teen Portugal in Bloemfontein. Ses van hulle is toetsspelers – Trevor Nyakane, Makazole Mapimpi, Edwill van der Merwe, André Esterhuizen, Lukhanyo Am en Aphelele Fassi. Die ander drie is Jan-Hendrik Wessels, Phepsi Buthelezi en Morné van den Berg. Die spelers sal na verwagting sorg vir meer ondervinding en vaardigheid in hulle onderskeie Curriebekerspanne.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-6-sent teen die dollar, 19-rand-60-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-249-dollar-35-sent. Die prys van goud is twee-duisend-384-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….