Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die soektog na die vermiste adjunk-direkteur van Water en Sanitasie duur voort
# Kaapstad se burgemeester vra inwoners om versigtig te wees terwyl die stormweer voortduur
# En, rugby: Die toets tussen die Springbokke en Ierland gee Durban se ekonomie ‘n hupstoot
# Die soektog na die adjunk-direkteur van Water en Sanitasie, Sello Machitje, duur voort na daar Maandag aangemeld is hy is in Gauteng gekaap. Machitje is vyf-uur die middag van sy huis weg op pad na die Oos-Kaap, maar het nooit opgedaag nie. Die polisie-woordvoerder Noxolo Kweza bevestig ‘n vermiste persoon-saak is aanhangig gemaak. Die polisie en privaat sekerheid het Machitje se voertuig opgespoor in Alexandra, Johannesburg, waar ‘n 53-jarige verdagte aangekeer is vir die besit van ‘n gesteelde voertuig.
# Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, het inwoners aangemoedig om versigtig te wees en onnodige reise te vermy omdat swaar reën en oorstromings voortduur. Die stormweer, wat deur ‘n tweede koue front veroorsaak word, het gelei tot swaar reënval en oorstromings in meer as 70 woonbuurte. Hill-Lewis sê meer as sewe-duisend huise in informele nedersettings is geraak en verskeie riviere, onder meer die Eerste- en die Liesbeekrivier, het afgekom:
Julie se reënvalrekords in die Wes-Kaap is intussen oortref. Nuwe reënvalrekords vir die maand is by weerstasies in Elim, Swellendam en Tulbagh opgestel. Elim het die hoogste reënval in agt jaar van 70.2 millimeter ontvang, Tulbagh 69,8 en Swellendam 30,4. ‘n Weerkundige, Annette Botha, sê hoewel temperature in die ooste behoort toe te neem, gaan die Wes-Kaap dié week nog twee fronte moet trotseer.
# Griekeland se hoof-opposisieparty, Syriza, sê die onlangse instelling van ‘n sesdae-werksweek deur sekere maatskappye is ‘n skande. Dit is vroeër dié maand ingestel deur die regse Nuwe Demokrasie-party. Griekeland sit met ‘n tekort aan vaardige werkers sedert die finansiële krisis van die laat-2000’s, wat jongmense na die buiteland laat uitwyk het op soek na beter vooruitsigte. Die nuwe beleid het plaaslik en internasionaal aandag getrek omdat dit teen die grein is van talle Westerse lande, waar daar debatte is oor ‘n vierdae-werksweek ter wille van produktiwiteit.
# Rugby: Die eThekwini-munisipaliteit sê Saterdag se langverwagte tweede toets tussen Suid-Afrika en Ierland sal help om die plaaslike ekonomie te laat groei. Die metro se woordvoerder, Gugu Sisilana, sê die wedstryd beteken regstreekse besteding van 125-miljoen-rand, ‘n bydrae van 309-miljoen-rand tot die bruto binnelandse produk en die skepping van 559 werksgeleenthede:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-7-sent teen die dollar, 19-rand-55-sent teen die euro en 23-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-740-dollar-54-sent. Die prys van goud is twee-duisend-372-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….