Nuus 13:00
BULLETIN 3 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC se hoofsweep trek sleutelmosies terug, insluitend benoeming van LP’s vir die Regterlike Dienskommissie
# Die nuwe minister van Binnelandse Sake is gereed om uitdagings te pak
# En, rugby: Marler en Stuart keer terug vir Engeland vir die eerste toets teen die All Blacks
# Die ANC se hoofsweep, Mdumiseni Ntuli, het verskeie mosies teruggetrek, insluitend die benoeming van parlementslede vir die Regterlike Dienskommissie. Ntuli het ook die benoemings teruggetrek om op die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se Parlementêre Forum te dien. Ntuli het tydens die eerste voltallige sitting van die Nasionale Vergadering die behoefte aan verdere raadpleging genoem. Die MK-party se hoofsweep, Sihle Ngubane, het beswaar gemaak en beweer die party is nie geraadpleeg oor die uitstel nie. MK het die eerste regter in Suid-Afrika wat afgedank is, John Hlophe, benoem om op die Regterlike Dienskommissie te dien.
# Die nuut-aangestelde minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, sê hy is gereed om uitdagings te pak, waaronder die verbetering van die werkvisumproses, wat deurslaggewend is vir ekonomiese groei. Ondernemings kla herhaaldelik oor die lang vertragings met die goedkeuring van werkvisums vir senior personeellede. Schreiber het aan eNCA gesê hy wil ook basiese inligtings-tegnologie- en sakeprosesse verbeter om toustaan teen te werk en diensdoeltreffendheid en waardigheid te verhoog:
# Die Stad Kaapstad het sy kommer uitgespreek oor die onlangse toename in bendegeweld in Lotusrivier, Ottery, Hanoverpark, Manenberg en Lavender Hill. Talle mense is die afgelope week in hierdie gebiede vermoor. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê terwyl gemeenskappe onder die geweld van bendes se gebiedsoorloë deurloop, wil die stad alles binne sy beperkte bevoegdheid doen om dit te beveg:
# Regsgesinde partye brei steeds hulle mag uit in die Europese Unie, soos gesien met die nuwe regering in Nederland en die uitslag van die eerste ronde van die verkiesing in Frankryk. Euronews berig die uitbreiding kan ‘n uitwerking hê op die manier waarop besluite geneem word in instellings in Brussel. ‘n Politieke wetenskaplike aan die Vrye Universiteit van Brussel, Dave Sinardet, sê die verregse leiers sal dalk moet verstaan hulle het die EU nodig om te voldoen aan hulle verkiesingsbeloftes, veral wat betref veiligheid en immigrasie.
# Rugby: Die ervare stutte, Joe Marler en Will Stuart, is terug in die opdrafspan van Engeland vir Saterdag se eerste toets teen die All Blacks in Dunedin. Hulle is die enigste veranderinge aan die span wat onlangs in Tokio met 52-17 met Japan afgereken het. Afrigter Steve Borthwick sê sy spelers besef hulle moet geestelik sterk wees, takties slim en gedissiplineerd bly wanneer hulle teen die Kiwi’s tuis speel. Die laaste toets word op Edenpark in Auckland, gespeel waar Nieu-Seeland sedert 1994 onoorwonne is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-44-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 23-rand-42-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-437-dollar-64-sent. Die prys van goud is twee-duisend-343-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-29-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….