Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens stel die 2024-belastingseisoen bekend met ‘n outo-aanslagportaal
# Die skeiding van die Energie-portefeulje word geloof vir die potensiaal om beurtkrag te beëindig
# En, tennis: Aryna Sabalenka onttrek aan Wimbledon weens ‘n skouerbesering
# Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het die 2024-belastingseisoen afgeskop met die oopstel van die outomatiese aanslagportaal vir eenvoudiger belastingsake. Die woordvoerder, Siphithi Sibeko, raai belastingbetalers aan om op eFiling of die SARS MobiApp aan te meld vir aanslae. Meningsverskille kan ook daar aangemeld word deur opgawes in te dien teen 21 Oktober vir nie-voorlopige belastingbetalers. Sibeko beklemtoon die diens se verbintenis om die indieningstydperk naatloos te maak, en waarsku Suid-Afrikaners teen swendelaars:
# Die vestiging van ‘n afsonderlike ministerie vir Elektrisiteit en Energie, met minister Kgosientsho Ramokgopa en adjunkminister Samantha Graham, het positiewe reaksie ontlok. Belanghebbers is ingenome oor die vooruitsig om beurtkrag permanent te beëindig en Suid-Afrika deur die energie-oordrag te stuur. Kritici wys op die kritieke rol van die ministerie om sekerheid, bekostigbaarheid, volhoubaarheid en mededingendheid in energie te verseker. Dringende voorkeurgebiede sluit in wetswysigings, regulatoriese duidelikheid en munisipale hervorming om die verspreiding- en die transmissie-sektor te steun.
Die Departement van Sport, Kuns en Kultuur het intussen die aanstelling van minister Gayton McKenzie en sy adjunk, Peace Mabe, verwelkom. McKenzie neem oor by oudminister Zizi Kodwa, wat verlede maand bedank het. Die departement se woordvoerder, Zimasa Velaphi, sê die nuwe leierskap sal volhoubare groei in die skeppende en kulturele bedrywe verseker; die erfenissektor bevorder en bewaar; en die sportsektor ontwikkel:
# Tennis: Die gelukkige Russiese verloorder, Erika Andreeva, speel in die plek van Aryna Sabalenka op Wimbledon, nadat die wêreld nommer drie weens ‘n skouerbesering onttrek het. Die tweemalige Grand Slam-kampioen van Belarus, het in 2021 en verlede jaar die halfeindronde op die All England Club gehaal. Sabalenka was een van die gunstelinge nadat sy vroeër vanjaar die Australiese Ope ingepalm het. Sy is gebroke oor die besluit, maar onderneem om volgende jaar sterker terug te keer.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-47-sent teen die dollar, 19-rand-80-sent teen die euro en 23-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-603-dollar-45-sent. Die prys van goud is twee-duisend-329-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 87-dollar-17-sent per vat.
# Ten slotte: Een van die land se eerste universiteitskore wat Westerse klassieke treffers en Afrika-melodieë verweef het, die Nelson Mandela-universiteitskoor, vier hierdie maand sy dertigste bestaansjaar. Die koor het oor die jare talle hoogtepunte bereik, insluitend om vir oudpresident Nelson Mandela, koningin Elizabeth en emeritus aartsbiskop Desmond Tutu op te tree. Die koor het vroeër vanjaar ook die verhoog met sangers van Suid-Korea gedeel waar hulle die betowering van harmonie en vriendskap deur musiek te toon gestel het. Die koorleier is Robert Gillmer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….