Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 1 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# John Steenhuisen sê die DA het SA gered van ‘n oordeelsdag-scenario
# ‘n Onderwysaktivis sê Basiese Onderwys moet die graad 12-slaagsyfer van 30- tot 50-persent verhoog
# En ‘n Britse 100-meter naelloop-sensasie bespreek sy plek vir die Paryse Spele
# Die leier van die DA, John Steenhuisen, sê die party is daartoe verbind om regeringsinstellings wat onder sy toesig is met verdrag te herbou, om gestalte te gee aan sy bewese rekord van goeie bestuur. Die party het 12 poste in die nuwe kabinet beding in die regering van nasionale eenheid. Volgens Steenhuisen het die DA gedurende die onderhandelingsproses deurgans ‘n strategiese doelwit gehad, gegrond op twee ineengeskakelde doelwitte:
Die onderwysaktivis, Hendrick Makaneta, sê intussen die nuwe minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, moet die graad 12-slaagsyfer vanaf 30- tot 50-persent verhoog vir alle vakke. Makaneta sê dis nie aanvaarbaar dat daar nog vakke is waar leerders 30-persent benodig om te slaag nie. Hy sê ook die minister moet die uitwissing van puttoilette in skole dringend voorop stel:
# Eenheid 5 van die Kusile-kragstasie is ná ses maande se streng toetse en optimalisering uiteindelik by Eskom se vloot ingeskakel. Die amptelike oorhandiging voeg ‘n noodsaaklike 800 megawatt by die kragnetwerk. Dit is ʼn mylpaal in pogings om Suid-Afrika se kragvoorsiening bestendig te maak. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê wanneer dit voltooi is, sal Kusile ses eenhede hê wat ʼn maksimum van vier-duisend-800 megawatt kan opwek:
# Olimpiese Spele: Die Britse sensasie, Louis Hinchliffe, het sy plek in die Paryse Spele verseker met ‘n gemaklike oorwinning in die mans 100-meter op sy land se atletiek-kampioenskap. Die 21-jarige atleet, wat deur die beroemde Amerikaner Carl Lewis afgerig word, het vroeër vanjaar getoon hy is ‘n ster met ‘n beste tyd van 9,95-sekondes. Hy het die naweek in Manchester die reën trotseer en ‘n tyd van 10,18-sekondes behaal. Hinchliffe het dié jaar twee keer deur die tien-sekonde grens gebreek, hoewel die wind hom die eerste keer gehelp het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-1-sent teen die dollar, 19-rand-39-sent teen die euro en 22-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-753-dollar-38-sent. Die prys van goud is twee-duisend-328-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-44-sent per vat.
# Ten slotte: Aardverwarming hou ‘n beduidende risiko in vir Suid-Afrika se landbou- en mynbousektore. Dit is volgens PwC Suid-Afrika se ekonomiese vooruitsig vir Junie. Stygende temperature kan ‘n uitwerking hê op water vir besproeiing, landbou-verwerking en die ontginning en verwerking van mineraal-erts. PwC beraam 24-persent van mielies-, 35-persent van koring- en 84-persent van die rysproduksie sal teen 2035 erg deur hitte-uitputting geraak word. PwC SA se hoofekonoom, Lullu Krugel, sê produsente moet hul veerkragtigheid verbeter deur klimaatrisiko’s te identifiseer en te bestuur.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….