Nuus 13:00
BULLETIN 30 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Vyftien verdagtes, insluitend City Power sekerheidsbeamptes, is vir kabeldiefstal en vandalisme aangekeer
# Dodelike ontploffings eis talle lewens in Nigerië
# En, motorsport: Daar is geen keer aan Verstappen nie
# Vyftien verdagtes, insluitend nege veiligheidsbeamptes, is tydens ‘n City Power-geleide intelligensie-operasie vir beweerde kabeldiefstal en vandalisme in Johannesburg aangekeer. Die hoofbestuurder van die Veiligheidsrisiko-bestuursafdeling van City Power, Sergeant Thela, sê die beamptes is onder die interne makkers wat hulle onder oë gehad het. Hy sê City Power veg terug teen die verwoestende gepeuter met noodsaaklike infrastruktuur:
# Die Departement van Gesondheid sê 885 kwalifiserende gesondheidspersoneel, insluitend dokters, verpleegkundiges en aptekers, is in poste geplaas om mediese internskappe te ondergaan en gemeenskapsdiens te verrig, soos die wet vereis. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale, sê die toewysingsproses is afgehandel en suksesvolle kandidate is oor hulle aangewese provinsies en gesondheidsgeriewe ingelig om van 17 Julie af vir diens aan te meld:
# Nigerië se weermag het ‘n aandklokreël in dele van die land ingestel na ‘n reeks bomaanvalle in die staat Borno waarin minstens 18 mense dood en 30 ander beseer is. Onder die slagoffers is kinders en swanger vroue. In een van die aanvalle is ses mense glo gister by ‘n troue gedood. Vermeende selfdoodbomaanvallers het ook ‘n begrafnis en ‘n hospitaal in die dorp Gwoza geteiken. ‘n Vyftienjaar-lange inval deur Boko Haram Islamitiese militante het meer as twee-miljoen mense ontwortel en meer as 40-duisend is dood.
# Motorsport: Max Verstappen het sy 40ste Formule-Een voorste wegspringplek vir sy Red Bull-span ingepalm deur Lando Norris van McLaren in die kwalifiserende ronde vir vandag se Oostenrykse Grand Prix te klop. Verstappen se tyd was vier-tiendes van ‘n sekonde vinniger as Norris op die kortste baan op die kalender in terme van rondetye. George Russell van Mercedes het derde gekwalifiseer, na nog ‘n McLaren-bestuurder, Oscar Piastri, gestraf is vir die oorskryding van die baanperke. Carlos Sainz van Ferrari spring vierde weg, voor Lewis Hamilton van Mercedes.
# En om mee af te sluit, Olimpiese Spele-nuus: Die Seine-rivier se watergehalte voldoen steeds nie aan standaarde nie – en dit ‘n maand voor die oopwater-swemkompetisie van die Paryse Spele en die swemskof van die driekamp. Die jongste toetse wat die Paryse burgemeesterskantoor bekend gemaak het, toon die vlakke van E.Coli-bakterieë – ‘n aanduider van ontlasting – is ver bo die boonste perke wat sportfederasies bepaal.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….