Nuus 13:00
BULLETIN 31 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Konstitusionele Hof beslis ten gunste van Vodacom in die “Please Call Me”-saak
# ‘n Pa van Mamelodi kry lewenslange tronkstraf vir die herhaalde verkragting van sy dogter
# En swem: Coetzé en Corbett is deur na halfeindrondes op die Wêreld-watersportkampioenskap in Singapoer
# Die Konstitusionele Hof het gelas die Appèlhof moet Vodacom se saak in die langdurige “Please Call Me”-geskil met die uitvinder Nkosana Makate heroorweeg. Vodacom het die uitspraak van die Appèlhof betwis, wat ‘n nuwe vergoedingsaanbod beveel het van meer as die 47-miljoen-rand wat aanvanklik voorgestel is. Makate vra 9,4-miljard-rand. Die uittredende waarnemende adjunkhoofregter, Mbuyiseli Madlanga, het gebreke in die Appèlhof se betoog gevind, wat kommer veroorsaak oor ‘n regsmislukking:
Madlanga tree vandag af na 17-jaar as regter. Die Konstitusionele Hof hou ‘n spesiale sitting vir hom. Madlanga is in 1997 as Suid-Afrika se jongste regter aangestel en sy loopbaanhoogtepunte sluit in die verteenwoordiging van die land by die Internasionale Geregshof in 2004. Hy het ook getuienis gelei tydens die Marikana-kommissie oor die moord op 34 stakende mynwerkers in 2012. Madlanga is tans voorsitter van die kommissie van ondersoek na beweerde politieke inmenging in die polisiemag.
# Die Nasionale Vervolgingsgesag het die lewenslange tronkstraf verwelkom wat die Pretoriase Landdroshof ‘n 64-jarige pa van Mamelodi opgelê het wat sy dogter herhaaldelik verkrag het. Die misbruik het in 2010 begin toe die slagoffer nege jaar oud was en aangehou tot 2020 toe sy 19 was. Dit het oor naweke en skoolvakansies gebeur wanneer sy by haar pa gaan kuier het. Die NVG se streekswoordvoerder, Lumka Mahanjana, sê die verkragtings het in 2021 aan die lig gekom:
# Cosatu vra die Suid-Afrikaanse Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee om die terugkoopkoers vandag met ten minste 25 basispunte te verlaag. Die meeste ekonome voorspel ‘n verlaging as gevolg van inflasie wat bestendig bly. Cosatu se woordvoerder, Zanele Sabela, sê hoewel die inflasiekoers effens gestyg het, het die komitee steeds genoeg beweegruimte, veral omdat inflasie steeds op die onderste vlak van die teikenband van drie- tot ses-persent bly:
# Swem: Pieter Coetzé van Suid-Afrika is deur na die halfeindronde van die 200-meter-rugslag op die Wêreld-watersport-kampioenskap in Singapoer. Die 21-jarige, wat pas goud in die 100-meter-rugslag gewen het, het in een-minuut 57,11-sekondes gekwalifiseer. Kaylene Corbett het met ‘n kragtige poging die 200-meter borsslag vir vroue in ‘n tyd van twee-minute-25,1-sekondes afgelê – die derde vinnigste in die derde uitdun. Becky Meder en Erin Gallagher kon nie daar in slaag om na die volgende ronde deur te dring in onderskeidelik die 200-meter borsslag en die 100-meter vryslag nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-1-sent teen die dollar, 20-rand-69-sent teen die euro en 23-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-493-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-310-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 72-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….