Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Komende nasionale dialoog gaan maatreëls bespreek om SA se politieke krisis op te los
# Die Energiekrisiskomitee is gasheer vir die 4de Aanvraagbestuurs-indaba
# En, sokker: ‘n Voormalige internasionale speler van Kameroen, Landry Nguemo is dood in ‘n motorongeluk
# Die Thabo Mbeki-stigting sê die komende nasionale dialoog wil maatreëls uiteensit wat nodig is om Suid-Afrika se politieke krisis op te los. Ná die stigting se oproep vir beraadslaging oor die land se toekoms, het voorsitter Geraldine Fraser-Moleketi die behoefte aan kollektiewe pogings uit alle sektore van die samelewing beklemtoon. Sy sê die dialoog sal gemeenskappe op alle vlakke betrek om die land se politieke, ekonomiese en maatskaplike samehorigheid te laat herleef:
# Die Nasionale Energiekrisiskomitee is besig met sy vierde Aanvraagbestuursindaba in die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit. Die regering, Eskom en kenners van die privaatsektor takel Suid-Afrika se energiekrisis. Die voorsitter, Rudi Dicks het aan die SABC gesê die indaba is onder meer gemik op die inwerkingstelling van die energie-aksieplanne en vraagvermindering. Hy het bygevoeg die Nasionale Transmissiemaatskappy van Suid-Afrika begin op 1 Julie met sy werksaamhede:
# Die Stad Tshwane het ‘n bedrag van 1,5-miljard-rand onderbestee aan voorwaardelike toekennings en subsidies wat vir vervoer, behuising en die opgradering van informele nedersettings toegeken is. ‘n Verslag wat gister voor die raad ter tafel gelê is, het aan die lig gebring teen einde Maart is slegs 73-persent van die Nasionale Tesourie se toelaes gebruik, wat die gevaar skep om fondse terug te moet besorg. Die stad sal moontlik probeer om onbestede fondse oor te plaas na die volgende boekjaar wat Maandag begin.
# Junior hospitaaldokters in Engeland het gister met ‘n vyfdaagse staking begin, ‘n week voor die algemene verkiesing waar die Nasionale Gesondheidsdiens ‘n belangrike geskilpunt is. Die diens gaan gebuk onder ‘n grootskaalse agterstand as gevolg van die Covid-19-pandemie. ‘n Onlangse opname toon dat minder as ‘n kwart van alle Britte tevrede is met die nasionale gesondheidsdien. Dis ‘n ongekende laagtepunt. Afgesien van vertragings met operasies en die aanvang van kankerbehandeling, moet die publiek ook lank wag om ‘n dokter by ‘n plaaslike spreekkamer te siene te kry.
# Sokker: Die 38-jarge voormalige internasionale speler van Kameroen, Landry Nguemo, is gister in ‘n motorongeluk dood. Die Voetbalfederasie van Kameroen het dit op Facebook bekendgemaak. Die middelveldspeler kom van Yaounde en het tussen 2006 en 2014 in 42 wedstryde vir Kameroen drie doele aangeteken. Hy was in sy klubloopbaan meesal in Frankryk en het as ‘n 16-jarige by die akademie van AS Nancy-Lorraine begin. Hy was ook in Turkye en Noorweë voor sy terugkeer na die Onder 16’s in Nancy om sy kennis en ervaring met kinders te deel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-19-sent teen die dollar, 19-rand-46-sent teen die euro en 23-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-369-dollar-35-sent. Die prys van goud is twee-duisend-328-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….