Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 27 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Twee vooraanstande stigtings kondig ‘n nasionale dialoog aan om ‘n verenigde Suid-Afrika te vestig
# SA salarisse toon ‘n effense herstel met ononderbroke kragvoorsiening
# En, padwedlope: Die oormalige Comrades-wenner Ann Ashworth is van pligte onthef as wedloopbestuurder
# Die Thabo Mbeki-stigting, die Ahmed Kathrada-stigting en ander groepe in die burgerlike samelewing, bied vandag ‘n nasionale dialoog aan om ‘n verenigde Suid-Afrika te vestig. Die dialoog het ten doel om ‘n gesamentlike visie vir die land se toekoms te skep deur werkloosheid, die stagnering van die ekonomie, regeringsmislukkings en politieke verlamming aan te pak. Die stigtings het kommer uitgespreek oor die huidige onsekerheid wat Suid-Afrikaners in die gesig staar aangesien president Cyril Ramaphosa nog nie sy kabinet aangekondig het nie. Suid-Afrikaners word aangemoedig om deel te neem.
# Salarisse in Suid-Afrika het in Mei effens herstel en die vlakke van 2023 verbygesteek te midde van ononderbroke kragvoorsiening en ‘n verbeterde sake-omgewing. Die BankservAfrica Take-home Pay-indeks dui op ‘n gemiddelde nominale salaris van 15-duisend-888-rand, wat ‘n tien-persent styging is sedert ‘n jaar gelede. Aangepas vir inflasie het salarisse 14-duisend-en-15-rand bereik, wat ‘n 4,5-persent styging is. Vooruitsigte stem ooreen met die voorspellings van die Reserwebank van ‘n positiewe tendens vir 2024, ondanks voortslepende ekonomiese uitdagings soos hoë rentekoerse en lewenskoste.
# ActionSA in Tshwane verwelkom die stad se munisipale komitee vir openbare rekeninge wat verskeie verslae oor onregmatige besteding aanvaar het en sy besluit om miljoene rand van korrupte amptenare terug te eis. ActionSA-woordvoerder Tshepiso Modiba sê die verslae wat gister aanvaar is, lig fondse uit wat sonder behoorlike magtiging of in oortreding van finansiële protokol bestee is. Modiba sê die Artikel 79A-komitee het aanbeveel onregmatige besteding van 246-miljoen-rand moet in die 2023/2024-boekjaar herwin word:
# Padwedlope: Die wenner van die Comrades in 2018, Ann Ashworth, is van haar pligte onthef as wedloop- en bedryfsbestuurder, sewe maande nadat sy daar begin het. Ashworth het op sosiale media aangedui die raad het ‘n probleem met haar gebrek aan leierskap en bestuursvaardighede. Sy verwerp die bewerings en sê sy het drie keer aangebied om te bedank, maar dis nie aanvaar nie. Ashworth is in November 2023 aangestel en het Rowyn James vervang. Sy het gedurende haar termyn ‘n borg bekom om prysgeld te verhoog asook bonusse vir elite atlete.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-63-sent teen die euro en 23-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-902-dollar-77-sent. Die prys van goud is twee-duisend-310-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-95-sent per vat.
# Ten slotte: ‘n Nie-ingrypingsprosedure met hoë-intensiteit, gefokusde ultraklank wat ‘n snytjie maak in die deel van die brein wat beweging beheer, gee nou Parkinsons-pasiënte hoop op onafhanklikheid. Die prosedure is die eerste keer vroeër die maand in Skotland op ‘n pasiënt uitgevoer. Die afgetrede brandbestryder Ian Keir se regterhand het twee jaar lank gebewe, wat alledaagse take onmoontlik gemaak het. Hy is behandel as deel van ‘n internasionale kliniese proefneming. Keir sê hy weet hy is nie heeltemal genees nie, maar dit werk teen van sy simptome van Parkinsons.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….