Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is………
In die bulletin:
# Cosatu is teleurgesteld oor Zizi Kodwa se beëdiging as LP
# Die MK-party betoog voor die hof in KwaZulu-Natal ná ‘n saak teen ‘n OVK-amptenaar
# En, rugby: Die Junior Bokke is opgewonde oor hulle Wêreldkampioenskap-aanvangswedstryd teen Fidji
# Cosatu sê hy is diep teleurgesteld omdat sy bondgenoot, die ANC, gekies het om sy eie opsystaan-beleid te ignoreer met die beëdiging van Zizi Kodwa as Parlementslid. Matthew Parks van Cosatu sê dit ondermyn die ANC se opsystaan-beleid vir openbare verteenwoordigers. Hy voeg by dit stuur ‘n kommerwekkende boodskap aan die samelewing oor die party se verbintenis om sy openbare verteenwoordigers aanspreeklik te hou:
# Die MK Party in KwaZulu-Natal betoog voor die Landdroshof in Pietermaritzburg oor ‘n areabestuurder van die Verkiesingskommissie wat in die hof verskyn. Die amptenaar het na bewering in die onlangse verkiesing met stembriewe gepeuter. Die amptenaar het glo stembusse verskuif sonder die teenwoordigheid van ‘n polisiebeampte. Die MK Party beskuldig die OVK daarvan dat hy nie ‘n vry en regverdige verkiesing verseker het nie. Die party sê die betoging onderstreep die party se eis vir verkiesingsintegriteit en aanspreeklikheid.
# Die Stad Tshwane sê hy is van voorneme om in die nuwe 2024/2025-boekjaar sy skuldbetalings-ooreenkoms met Eskom af te sluit. Eskom se woordvoerder in Gauteng, Amanda Qithi, sê Tshwane het Eskom sowat 4,9-miljard-rand geskuld en daar is nog geen betaling gedoen of ‘n skikkingsooreenkoms met die metro aangegaan nie. Qithi sê die stad kan nie sy lopende rekening met Eskom vereffen nie:
# Die dodetal in die betogings in Kenia het tot 13 gestyg nadat optogte teen belastingverhogings gewelddadig geword en die polisie losgebrand het op betogers wat die parlement geplunder het. Dele van die parlement is gister aan die brand gesteek en talle mense is beseer. Keniane was geskok en president William Ruto se regering is aangespoor om die weermag te ontplooi. Die versetoptrede, wat hoofsaaklik deur die jeug gelei is, het verlede week meestal vreedsaam begin, met duisende betogers wat in die hoofstad Nairobi en regoor die land opgeruk het teen belastingverhogings.
# Rugby: Die Junior Bokke is besig om hul voorbereidings vir Saterdag se Onder-20-wêreldkampioenskap-aanvangswedstryd teen Fidji in die Kaapstad-stadion te verfyn. Die span het vanaf hul tuisbasis in Stellenbosch na hul amptelike toernooibasis in die Moederstad verskuif. Die hulpafrigter, Lumumba Currie, sê die Fidjiaanse span sal bestaan uit spelers wat aan die Stille Oseaan- en Nieu-Seeland-kompetisies deelgeneem het, wat beteken hulle is geharde spelers.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-19-sent teen die dollar, 19-rand-46-sent teen die euro en 23-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-369-dollar-3-sent. Die prys van goud is twee-duisend-316-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….