Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 25 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Grensbestuursowerheid stel ‘n paraatheidsplan vir a-pokke by hawens in
# Johannesburg Water gaan die watertoevoer met 50% verminder weens Rand Water se instandhouding
# En, rugby: Die Bok-groep sal ‘n aanduiding wees van Rassie se balanseertoertjie
# Die kommissaris van die Grensbestuursowerheid, Michael Masiapato, het aangekondig die owerheid se hawe-gesondheidsbeamptes het ‘n uitbrekings-gereedheidsplan ontwikkel wat die reaksie met die hantering van a-pokke uiteensit. Die woordvoerder, Mmemme Mogotsi, sê die huidige reaksieplan is ingestel om te kan reageer, aangesien die Departement van Gesondheid 13 gevalle bevestig het. Mogotsi sê die owerheid stel siftingsprosesse in vir reisigers wat die land by alle hawens en grense binnekom:
# Die Stad Johannesburg sê Johannesburg Water sal watertoevoer by alle reservoirs met 50-persent verminder en inwoners kan min of geen watertoevoer hê nie, soos Rand Water se instandhoudingswerk vorder. Johannesburg Water se woordvoerder, Nombuso Shabalala, sê hulle sal tenkwaens voorsien in kritieke gebiede soos by hospitale, klinieke, munisipale kantore, skole en polisiestasies. Shabalala sê daar sal ook tenkwaens in die voorstede wat geraak word, beskikbaar wees:
# Die Universiteit van Fort Hare, in samewerking met die Noordwes-universiteit, gaan ‘n kollokwium aanbied ter ere van wyle regter Yvonne Mokgoro. Dit is uit erkenning aan haar besondere impak op die Suid-Afrikaanse regslandskap en verbintenis tot geregtigheid. Die tema is: ‘n Akademikus en ‘n Regter, Essays ter Ere van Mokgoro en sal in Oktober vanjaar plaasvind by die Mahikeng-kampus van die Noordwes-universiteit. ‘n Uitnodiging is uitgereik vir die voorlegging van referate vir die kollokwium, wat die erfenis van hierdie regskenner sal gedenk.
# ‘n Brand by ‘n litiumbattery-aanleg in Suid-Korea het die lewens van minstens 22 mense geëis en agt beseer, meesal Chinese burgers. Die fabriek word deur die batteryvervaardiger, Aricell, in Hwaseong, suid van die hoofstad, Seoel, bedryf. Plaaslike amptenare sê die brand het ontstaan nadat ‘n reeks batteryselle in ‘n pakhuis met ongeveer 35-duisend eenhede ontplof het. Owerhede bepaal nou of daar brandblusserstelsels op die perseel was en of dit in ‘n werkende toestand was.
# Rugby: Die Springbokke is vanoggend weer tuis en nou wag almal vir die aankondiging van die groep vir die inkomende toere. Die aankondiging sal die opbou tot die reeks van twee wedstryde teen Ierland inlui wat die Bokke bitter graag wil wen. Ierland was die een teenstander wat hulle nie in Frankryk by die Rugby Wêreldbeker kon klop nie. Met almal wat beskikbaar is om vir die Bokke gekies te word, sal die spankeuse ‘n aanduiding wees van hoe Erasmus hierdie balanseertoertjie wil aanpak.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-16-sent teen die dollar, 19-rand-48-sent teen die euro en 23-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-913-dollar-91-sent. Die prys van goud is twee-duisend-332-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-79-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….