Nuus 13:00
BULLETIN 13 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Departement van Minerale en Petroleum-hulpbronne ondersoek die omstandighede rondom die Nkaneng-mynramp
# Karoline Leavitt bedank as die Withuis se perssekretaris
# En rugby: Richie Mo’unga word vir die All Blacks opgeroep na Billy Proctor beseer is
# Die Departement van Minerale en Petroleum Hulpbronne sê die tragedie by die verlate mynskag in Nkaneng naby Rustenburg in Noordwes het plaasgevind binne die grense van ‘n gebied met ʼn geldige mynboupermit. Die liggame van 14 vermeende onwettige mynwerkers is Dinsdag in ʼn verlate mynskag gevind. Die departement se woordvoerder, Lerato Ntsoko, sê die terrein is ʼn oopgroef-myn en sluit nie ʼn ondergrondse skag in nie:
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, het die departement se digitaliseringsprojek na die Spesiale Ondersoekeenheid en die Valke verwys. Dit volg na gister se onaangekondigde inspeksie by die Hooggeregshof in Pretoria, ná klagtes oor ʼn gebrek aan dienste. Die departement se woordvoerder, Palesa Rammitlwa, sê Kubayi is ingelig dat dienste ontwrig word omdat die diensverskaffer toegang tot belangrike rekords weier:
# President Cyril Ramaphosa het medelye betuig met die regering en mense van Zimbabwe na die tragedie op die Kariba-meer. Minstens 44 mense is dood toe ʼn oorlaaide veerboot gister omgeslaan het toe ‘n golf dit getref het. Sewe-en-sewentig mense is tot dusver gered. President Emmerson Mnangagwa het ʼn ramptoestand afgekondig. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê hulle dink ook aan die oorlewendes en gesinne wat wag op nuus terwyl reddingspogings voortduur:
# Die Withuis se perssekretaris, Karoline Leavitt, gaan die einde van die maand vertrek om meer tyd saam met haar gesin deur te bring. Die 28-jarige was in die pos sedert president Donald Trump in Januarie verlede jaar weer aan bewind gekom het. Leavitt is gereeld gekritiseer vir die versterking van waninligting en beperking van mediavryheid. Trump sê op Truth Social Leavitt sal nou dien as een van sy voorste eksterne raadgewers en ‘n invloedryke stem binne die Republikeinse Party terwyl hulle werk om die middeltermyn-verkiesing oortuigend te wen.
# Rugby: Die All Black-senter Billy Proctor is uit die res van die Greatest Rivalry-toer na hy sy bladbeen gebreek het in Vrydag se oorwinning van 38-21 oor die Stormers in Kaapstad. Die losskakel Richie Mo’unga is as sy plaasvervanger opgeroep en sal môre in Johannesburg aankom. Die 32-jarige Mo’unga het die afgelope drie jaar in Japan gespeel, wat hom nie verkiesbaar gemaak het vir die nasionale span nie. Hy moes sy plek verdien deur in die Nasionale Provinsiale Kampioenskap te speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-15-sent teen die dollar, 18-rand-63-sent teen die euro en 21-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-647-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-380-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 89-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….