Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 18 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA is bekommerd oor Helen Zille se kommentaar oor die Phala Phala-skandaal
# Sanlam gaan 60% van MultiChoice se versekeringsake oorneem
# En, krieket: Die Internasionale spelersvereniging wil hulle stemme laat hoor
# ActionSA sê dit lyk asof die DA sy belofte terugtrek om president Cyril Ramaphosa aanspreeklik te hou vir die Phala Phala-skandaal. Athol Trollip van ActionSA het gereageer op die DA se Federale raadsvoorsitter, Helen Zille, se opmerking oor die DA wat nie sal stem vir ‘n ampsklag teen ‘n president waarvoor hulle gestem het nie, tensy nuwe bewyse na vore kom. Trollip sê die Konstitusionele Hof sal binnekort ‘n aansoek aanhoor wat die ANC se gebruik van hul parlementêre meerderheid betwis om die aanvaarding van die Onafhanklike Paneelverslag rondom die skandaal, te verwerp:
# Sanlam en die die MultiChoice Groep het vandag aangekondig hulle het ‘n ooreenkoms aangegaan sodat Sanlam 60-persent van MultiChoice se versekeringsake, NMS Insurance Services, sowel as ‘n langtermyn kommersiële reëling kan verkry. Die Sanlam Groep se uitvoerende hoof, Paul Hanratty, sê dit is om hul onderskeie markvoetspore en tegnologiese vermoëns te benut om groei en markpenetrasie te ondersteun. Hanratty sê vir MultiChoice verteenwoordig die transaksie ‘n geleentheid om sy byvoeging van waarde-dienste, soos versekering aan sy kliënte regoor Afrika, te kan uitbrei.
# Eskom het klante gevra om geduldig te wees terwyl agterstande in herstelwerk talle gebiede in Kaapstad raak. Dit word veroorsaak deur gure weerstoestande, diefstal, vandalisme en onwettige verbindings. Dis nie seker wanneer die agterstand uitgewis sal wees nie en die kragvoorsiener vra Kaapstad se inwoners om geduldig te wees. Dele wat geraak word, sluit in Khayelitsha, Grabouw, Macassar, Somerset-Wes, Eersterivier, Kraaifontein, Delft, Belhar, Wesbank, Sir Lowry’s Pass en Philippi. Die spanne werk hard om krag na dié dele te herstel.
# Krieket: Die wêreldspelersraad, Fica, het sy naam verander na Wêreld-krieketspelersvereniging. Die vereniging verteenwoordig nou die meerderheid van die wêreld se beste spelers uit 14 lande. Op ‘n vergadering in New York, het die vereniging die eerste Tim May-medaljes vir uitstaande diens aan die vereniging toegeken aan Tim May en Richard Bevan. Beide het hard gewerk om seker te maak spelers het gesamentlik ‘n sê in sake wat hulle op ‘n globale vlak raak.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-10-sent teen die dollar, 19-rand-42-sent teen die euro en 22-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-595-dollar-21-sent. Die prys van goud is twee-duisend-313-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-92-sent per vat.
# Ten slotte: Die veteraan Britse akteur, Ian McKellen, wat Gandalf in die “Lord of the Rings”-trilogie vertolk het, is laat gistermiddag hospitaal toe gehaas nadat hy tydens ‘n vertoning in Londen van die verhoog geval het. Die 85-jarige akteur vertolk John Falstaff in ‘n produksie van “Player Kings” by die Noel Coward-teater in die Londense Wes-einde en het tydens ‘n gevegstoneel sy balans verloor. Hy het ‘n skandering in die hospitaal ondergaan en daarna is aangekondig hy sal na verwagting spoedig herstel. Hy keer na verwagting môre terug na die verhoog.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….