Nuus 13:00
BULLETIN 15 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Refilwe Mtshweni-Tsipane is verkies as die voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies
# Die uitvoerende hoof van Eskom deel die vordering in sy eerste 100 dae
# En, rugby: Davids en Van Wyk is ingesluit in die Blitsbok-groep vir Monaco
# Die voormalige premier van Mpumalanga, Refilwe Mtshweni-Tsipane, is verkies as voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies. Vier-en-vyftig permanente afgevaardigdes van die raad is vandag by die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum ingehuldig. Dit volg na gister se inswering van die meerderheid van die lede van die Nasionale Vergadering. Die Raad van Provinsies het 90 afgevaardigeds – tien lede uit elke provinsie. Ses van die tien is permanente lede en vier is spesiale afgevaardigdes.
# Die uitvoerende hoof van Eskom, Dan Marokane, het prestasies in sy eerste 100 dae in die amp uiteengesit. Die sleutel-fokuspunte het die beoordeling ingesluit van die Opwekkings-operasionale Herstelplan, die vordering met Eskom se ontbondeling en die betrokkenheid van belanghebbendes. Marokane wys ook op 80 dae sonder beurtkrag. Hy lig planne uit om die Nasionale Transmissiemaatskappy teen Julie in bedryf te hê, asook verskeie strategiese inisiatiewe vir volhoubare groei:
# Rand Water sê hy beplan onderhoudswerk tydens die wintermaande wanneer die vraag laer is, om te verseker sy infrastruktuur is in die somer betroubaar. Die woordvoerder van Rand Water, Makenosi Maroo, sê hulle gaan volgende week tot 29 Julie met omvattende, pro-aktiewe infrastruktuur-onderhoud begin. Maroo sê die munisipaliteite in Gauteng, Mpumalanga en Noordwes sal geraak word en die onderhoud sal op verskillende tye gedoen word:
# Rugby: Zain Davids en Shilton van Wyk keer terug na die Springbok Sewesgroep wat volgende naweek deelneem aan die Wêreld Rugbysewes Repechage in Monaco. Suid-Afrika speel teen Meksiko, Tonga en Chili in die groepfases van die toernooi waar die wenner sal kwalifiseer vir die Rugby Sewestoernooi by die Olimpiese Spele in Parys. Die groep vir Monaco is net twaalf spelers, en nie die gewone 13 nie. Die afrigter Philip Snyman sê hulle vertrek môre na Monaco gefokus op die taak wat voorlê.
# En, ten slotte: Die jongste uitgawe van die gewilde bordspeletjie Catan fokus op klimaatskwessies. Catan gaan oor die insamel en gebruik van bronne soos bakstene en hout om nedersettings in ‘n fiktiewe wêreld te bou en uit te brei. Die nuwe weergawe is egter in die 21ste eeu geplaas, met ‘n belangrike rol vir werklike elemente soos kragstasies en besoedeling. Die ontwikkelaars kry dit goed reg om pret en omgewingswetenskap te balanseer. Die speletjie word volgende jaar 30, met talle weergawes en uitbreidings wat reeds vrygestel is, en meer as 45-miljoen kopieë wat wêreldwyd verkoop is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….