Nuus 13:00
BULLETIN 14 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# LP’s word ingehuldig voor die verkiesing van die speaker en die president
# Shivambu sê partyleiers het aan die ANC geskryf om gesamentlik te onderhandel
# En, krieket: Afganistan kwalifiseer vir die T20 Wêreldbeker Super 8’s terwyl Nieu-Seeland uitgeskakel word
# President Cyril Ramaphosa en adjunkpresident Paul Mashatile was van die eerste tien Parlementslede wat ingehuldig is tydens die eerste sitting van die sewende administrasie in die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum. Die Nasionale Vergadering sal ook die speaker, adjunkspeaker en die president verkies, ondanks die MK Party se regsuitdagings. Hoofregter Raymond Zondo, wat die sitting se voorsitter is, het die belangrikheid van hierdie oomblik beklemtoon terwyl die nasie 30-jaar van demokrasie vier:
Intussen sê die adjunkpresident van die EFF, Floyd Shivambu, die partyleiers wat die progessiewe koukus gevorm het, het aan die ANC geskryf om te sê hulle gaan gesamentlik onderhandel oor die regering van nasionale eenheid. Shivambu het die media in Kaapstad toegespreek en by die ANC gepleit om nie ooreen te kom oor ‘n regeringsmodel met die DA nie. Hy sê die ANC moet nie by magte aansluit wat hulle wortels in apartheid het nie:
# Die Nasionale Tesourie sê hy werk hard aan ‘n proefmodel wat die privaat sektor kan betrek by meer beleggings in hernubare energiebronne. Die regering het tot die slotsom gekom dat privaat finansies en vermoëns vereis word as Suid-Afrika ‘n groter netwerkinfrastruktuur wil vestig om meer hernubare energiebronne te ontsluit. Dit sluit onder meer een-duisend-400-kilometer per jaar se nuwe kraglyne in tot 2032. Die Tesourie se adjunk-direkteur-generaal, Mmakgoshi Lekhete, sê hulle wil ook 1,5-duisend-miljard-rand se beloftes ontsluit wat vir die Billike Energieoordrag-beleggingsplan gemaak is.
# Krieket: Nieu-Seeland is in die groepsfase van die T20-Wêreldbekertoernooi uitgeskakel nadat Afganistan Papoea-Nieu Guinee geklop en deurgedring het na die Super Agt-ronde. Fazal Farooqi is steeds die beste bouler in die kompetisie nadat hy nog drie paaltjies in Trinidad ingepalm het. Papoea-Nieu Guinee is vir net 95 uitgehaal, en Afganistan het die teiken in hulle 16de boulbeurt bereik met drie paaltjies plat. Nieu-Seeland het hulle eerste twee wedstryde verloor en is in die vyfde plek in Groep C, met die mede-gasheer, die Wes-Indiese Eilande, tweede na Afganistan.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-63-sent teen die euro en 23-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-993-dollar-2-sent. Die prys van goud is twee-duisend-316-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-55-sent per vat.
# En ten slotte: Tafelberg het nou beroemdheid verwerf as Suid-Afrika se besigste en gewildste stapomgewing en ‘n wêreldbrandpunt vir Instagrammers. Explore Worldwide se peiling het sy gewildheid aan die lig gebring, met een-duisend-189 Instagram-plasings per kilometer van die staproete, wat dit sewende op die wêreldranglys plaas. Dit is in vergeleke met die wêreld se besigste staproete, Berg Kinabula in Maleisië, met meer as 22-duisend Instagram-plasings per kilometer. Die Inca-staproete na Machu Picchu in Peru is in die tweede plek met ses-duisend-723 plasings.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….