Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 9 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom regverdig die vertragings met die sluiting van kragstasies
# AZAPO vra vir spoedige bystand vir vloedgesteisterde gemeenskappe
# En, padwedlope: Piet Wiersma van Nederland wen Comrades
# Eskom het die Presidensiële Klimaatskommissie weer verseker die vertraging met die sluiting van verskeie kragstasies is noodsaaklik. Die uitvoerende hoof, Dan Marokane, sê Eskom se besluit om die buitediensstelling van die steenkoolkragstasies by Camden, Hendrina en Grootvlei tot 2030 uit te stel sal tussen 85- en 90-miljard-rand kos. Hy hou vol die vertragings is noodsaaklik ten spyte van die aansienlike koste:
# AZAPO is uiters besorg oor die stadige reaksie van plaaslike en provinsiale regerings om die uitdagings van die vloedgeteisterde gemeenskappe in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal aan te spreek. Die party dring aan op proaktiewe maatreëls, insluitende verbeterde monitering van die weer, boumateriaal wat rampbestand is en hervestiging vanuit gebiede wat vatbaar is vir rampe. AZAPO kritiseer die regering se versuim om infrastruktuur te onderhou. Die party vra doeltreffende optrede om gemeenskappe wat geraak is te herbou en ondersteun.
# ‘n Verslag van UNICEF toon Suid-Afrika is een van 20 lande wat verantwoordelik is vir 65-persent van kinders wêreldwyd wat ernstige voedselnood ondervind. Drie-en-twintig persent van kinders in Suid-Afrika het nie genoeg kos nie en hulle het ‘n meer as 50-persent kans om aan lewensbedreigende ondervoeding te ly. ‘n Woordvoerder van UNICEF, Christine Muhigana, sê die gevolge kan lewenslank voortduur, dit verhoog die risiko van siektes en verleng die armoedesiklus:
# Padwedlope: Piet Wiersma het vandag die Comrades-marathon in vyf uur, 24 minute en 56 sekondes gewen. Dit is die Nederlander se eerste Comrades-titel. Dan Moselakwe van Suid-Afrika was tweede. Nog ‘n Suid-Afrikaner, Tete Dijana, houer van die af-rekord na Durban met ‘n tyd van vyf uur, 13 minute en 58 sekondes, wou graag die derde agtereenvolgende keer wen maar moes verskeie kere stop, skynbaar weens krampe. In die wedloop vir vroue het Gerda Steyn haar tweede agtereenvolgende oorwinning met ‘n rekordtyd behaal nadat sy uit die staanspoor tot die einde voorgeloop het.
# En, om mee af te sluit: Indonesiese amptenare sê ‘n vrou is dood binnekant ‘n slang gevind nadat sy heel ingesluk is. Die eggenoot van die 45-jarige vrou en inwoners van die dorpie, Kalempang, in die Suid-Sulawesi-provinsie, het haar in die gevlekte luislang gevind, wat nagenoeg vyf-meter lank was. Die ma van vier het Donderdagaand vermis geraak en dit het tot ‘n soektog gelei. Volgens AFP is sulke voorvalle baie skaars, maar verskeie mense is die afgelope jare in Indonesië dood nadat hulle heel deur ‘n luislang ingesluk is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….