Nuus 13:00
BULLETIN 29 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die publiek sal toegang hê tot die verhore van die kommissie wat die KwaZulu-Natalse polisie-kommissaris se bewerings ondersoek
# Die VF Plus sal nie toelaat dat Pretoria se stadsaal verkoop word aan Iran nie
# En ‘n rooipanda-tweeling word in ‘n Engelse dieretuin gebore
# Regter Mbuyiseli Madlanga het bevestig dat die publiek toegang sal hê tot die kommissie van ondersoek se verhore oor die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, se bewerings oor politieke inmenging. Die verrigtinge sal ook regstreeks gestroom word, tensy anders bepaal. Madlanga is ook bewus van die hangende geding in die Konstitusionele Hof wat die instelling van die kommissie betwis. Hy het bevestig dat hulle hofbeslissings sal gehoorsaam, maar sê die voorbereidings vir openbare verhore gaan steeds voort:
# Die VF Plus maak sterk beswaar teen die Stad Tshwane se plan om dalk die geskiedkundige Pretoriase stadsaal aan die Iranse regering te verkoop of te verhuur. Die saal is reeds sowat ‘n dekade nie in gebruik nie en sowat 200-miljoen-rand is nodig om dit op te knap. Die Iranse ambassade se kultuurafdeling wil die verwaarloosde saal vir kulturele en artistieke bedrywighede gebruik. Grandi Theunissen van die VF Plus sê die gebou moet bewaar word as ‘n simbool van Suid-Afrika se hoofstad:
# Die polisie sê hy bly verbind tot sy landwye operasies vir die bekamping en voorkoming van misdaad wat openbare veiligheid bedreig en die land se ekonomiese infrastruktuur beskadig. Operasie Shanela is verlede week in al nege provinsies uitgevoer en 14-duisend-273 verdagtes is vasgetrek. ‘n Polisiewoordvoerder, Vincent Mukhathi, sê hulle het beslag gelê op meer as 156-miljoen-rand se nagemaakte klere en onwettige sigarette:
# Tennis: Die viermalige Grand Slam-kampioen Naomi Osaka en haar Franse afrigter, Patrick Mouratoglou, se paaie skei na minder as ‘n jaar. Die 27-jarige Japannees het onder sy leiding in Januarie die eindstryd in Auckland gehaal en die L’Open 35 de Saint Malo gewen – haar eerste titel sedert 2021. Osaka sê dit was goed om by Mouratoglou te leer, en hy sê hy is dankbaar vir haar vertroue in hom en die pad wat hulle saamgeloop het. Sy sal voorlopig met die Poolse afrigter, Tomasz Wiktorowski, werk.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-93-sent teen die dollar, 20-rand-76-sent teen die euro en 23-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-890-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-321-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 69-dollar-76-sent per vat.
# En laastens: ‘n Rooipanda-tweeling is in ‘n dieretuin op die Isle of Wight in die suide van Engeland gebore nadat die ouers verlede jaar aan mekaar voorgestel is. Die tien-jaar-oue ma, Xiao, is gepaar met ‘n 10-maande oue mannetjie, Flint, wat van Belfast se dieretuin ingevoer is. Die welpies sal in die nesbokse bly tot hulle minstens drie maande oud is. Die bedreigde spesie leef in die oostelike Himalajas en China met getalle wat dramaties afneem. Rooipandas word gejag vir hulle pels, gevang in slagysters en bedreig deur ontbossing.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….