Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die IVP gaan die dinamika van ‘n regering van nasionale eenheid verken
# Die rand is bestendig na die aankondiging van ‘n regering van nasionale eenheid
# En, tennis: Carlos Alcaraz teen Jannik Sinner in die halfeind is ‘n eindstryd werd
# Die IVP gaan die moontlikheid, lewensvatbaarheid en dinamika van ‘n regering van nasionale eenheid ondersoek, na aanleiding van die ANC se voorkeur vir hierdie moontlikheid. Die IVP se koalisie-taakspan sal met die ANC en ander partye in gesprek tree en ‘n verslag sal Maandag aan die Nasionale Uitvoerende Komitee voorgelê word. Die IVP se woordvoerder, Mkhuleko Hlengwa, sê die party is oop vir ‘n regering van nasionale eenheid, maar omvattende gesprekke is nodig om ‘n weldeurdagte besluit te kan neem, wat sal voorkeur gee aan nasionale belang en IVP-beleid:
Die rand het intussen van sy verliese herwin nadat dit gister tydelik tot 19-rand teenoor die dollar verswak het. Dit volg nadat president Cyril Ramaphosa planne vir ‘n regering van nasionale eenheid aangekondig het. Die ooreenkoms sal teikens vir ekonomiese groei, inklusiwiteit en dienslewering insluit. Die rand is gesteun deur ‘n swakker dollar wat naby ‘n laagtepunt van agt weke bly in afwagting op ‘n belangrike Amerikaanse verslag oor indiensnemingsyfers.
# City Power in Johannesburg het die kragtoevoer van drie sakeondernemings en twee behuisingskomplekse ontkoppel wat saam meer as 20,7 miljoen-rand in onbetaalde kragrekenings skuld. Meredale Estates in die suide van die stad skuld die nutsmaatskappy meer as sewe miljoen-rand. Die landgoed het glo laas in 2014 betaal. City Power se woordvoerder, Isaac Mangena, sê die nie-betalings benadeel hul inkomste in geheel.
# Tennis: Die manshalfeindronde word vandag op die Franse Ope beslis. Die vierde gekeurde Duitser, Alexander Zverev, kom teen die sewende gekeurde Noorweër, Casper Ruud, te staan met albei wat hulle eerste Grand Slam-titels wil verower. Voor dié kragmeting is daar groot afwagting vir ‘n moontlike titaniese stryd tussen die tweede gekeurde Jannik Sinner van Italië en die derde gekeurde Carlos Alcaraz van Spanje. Alcaraz sê hy sien uit na die uitdaging:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-82-sent teen die dollar, 20-rand-49-sent teen die euro en 24-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-76-dollar-48-sent. Die prys van goud is twee-duisend-343-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-77-sent per vat.
# Ten slotte: Die Disfrutar-restaurant in Barcelona is eerste op vanjaar se lys van die wêreld se 50 beste restaurante. Hy word geloof vir sy kombinasie van briljante, verbeeldingryke disse, onoortreflike tegniese vaardighede en vrolike aanbieding. Asador Etxebarri in Atxondo naby die Spaanse hawestad Bilbao is tweede. Table by Bruno Verjus in die Franse hoofstad is derde en Diverxo in Madrid is vierde. Maido in Lima is vyfde, en een van Peru se drie restaurante wat die lys van 50 gehaal het. La Colombe in Kaapstad is 49ste.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….