Nuus 13:00
BULLETIN 5 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die staat staan nie borgtog teen vir Zizi Kodwa en sy mede-beskuldigde nie
# ‘n UWK-professor sê Suid-Afrika het gesonde, kragtige demokratiese stelsels
# En, tennis: Jabeur kap die Franse Ope-organiseerders oor te min vrouewedstryde saans
# Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa, en sy mede-beskuldigde, die voormalige hoof van EOH, Jehan Mackay, is van plan om onskuldig te pleit op aanklagte van korrupsie wat verband hou met EOH Holdings. Kodwa word daarvan beskuldig dat hy 1,6-miljoen-rand se omkoopgeld van Mackay ontvang het. Hulle inhegtenisneming volg op die Zondo-kommissie se aanbevelings oor staatskaping. Die staat het die Landdroshof in Palm Ridge in Gauteng ingelig hy staan nie borgtog teen nie. Kodwa se regsverteenwoordiger, Zola Majavu, sê sy kliënt is bewus van die aard en erns van die aanklagte:
# ‘n Hoogleraar aan die Universiteit van die Wes-Kaap, professor Fiona Anciano, sê die meer as 16-miljoen Suid-Afrikaners wat in die algemene verkiesing gestem het, is ‘n bewys van die land se gesonde, kragtige demokratiese stelsels. Die verkiesing is deur ‘n rekordgetal politieke partye en ook die eerste keer deur onafhanklike kandidate betwis. Anciano sê die ANC, wat al 30 jaar aan bewind is en vreedsaam aanvaar het dat hy sy meerderheid verloor het, is ‘n toonbeeld van demokrasie op sy beste:
# Die Stad Kaapstad se rampbestuurspan sê sy spanne hou hoërisiko-gebiede dop en bepaal watter humanitêre en ingenieurshulp nodig is. Berigte is ontvang van oorstromings in Khayelitsha, Gugulethu, Wallacedene, Macassar, Sir Lowrypas-dorp en Nomzamo in die Strand. Woordvoerder Charlotte Powell sê die Suid-Afrikaanse Weerdiens het vir vandag ook ‘n vlak 2-waarskuwing uitgereik vir skadelike wind tussen Kaappunt en Kaap Agulhas:
# Tennis: Die Tunisiese ster, Ons Jabeur, het die organiseerders van die Franse Ope gekritiseer oor die gebrek aan vroue-wedstryde saans, wat daartoe lei dat spel tot in die vroeë oggendure voortduur. Al tien aandwedstryde op Roland Garros tot dusver vanjaar was mans-wedstryde, wat baie langer as vroue-wedstryde duur. Jabeur se nederlaag teen Coco Gauff in die kwarteindronde het gisteroggend 11-uur begin en die vroeë gedeelte van die wedstryd is voor feitlik leë pawiljoene op die Philippe Chatrier-baan afgehandel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-77-sent teen die dollar, 20-rand-41-sent teen die euro en 23-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-949-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-332-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-46-sent per vat.
# En ten slotte, tien studente van oral in die land is die tweede groep beursontvangers wat baatvind by Mej Suid-Afrika, Natasha Joubert, se opvoedkundige veldtog, die Natasha Joubert Collective. Dit is in vennootskap met HyperionDev en die rekenaar hardeware-maatskappy ASUS. Die veldtog bied tien koderingsbeurse aan uitgesoekte studente om aan te sluit by ‘n omvattende ses-maande volstapel-webontwikkelaar oefenkamp. Ses van die ontvangers is van Gauteng, en die ander kom van die Wes-Kaap, die Noord-Kaap, die Vrystaat en Limpopo.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….