Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 4 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die voormalige speaker van die Nasionale Vergadering se korrupsiesaak word uitgestel tot volgende maand
# RISE Mzansi is gekant teen enige koalisieparty wat oorlog verklaar het teen die Grondwet
# En, krieket: Sekerheid is opgeskerp by die Long Island-stadion vir die T20-Wêreldbekertoernooi
# Die korrupsiesaak teen die voormalige speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, is uitgestel tot die negende van volgende maand, wanneer die Landdroshof in Pretoria sal besluit of dit oorgeskuif moet word na die Hooggeregshof. Haar borgtog van 50-duisend-rand is verleng. Mapisa-Nqakula staan tereg op 12 aanklagte van korrupsie en een van geldwassery omdat sy na bewering meer as twee-miljoen-rand se gunslone ontvang het terwyl sy minister van Verdediging en Militêre Veterane was. Staatsaanklaer Bheki Manyathi het bevestig die tweede beskuldigde word nie meer bygevoeg nie:
# RISE Mzansi sê sy nasionale leierskap sal alle koalisieregerings hewig teenstaan wat partye insluit wat oorlog verklaar het teen die Grondwet, die oppergesag van die reg sowel as algemene orde in die samelewing. Mabine Seabe van RISE Mzansi sê die kenmerk van enige werkende demokrasie is die vreedsame oordrag van mag, en dit is ‘n tradisie wat Suid-Afrikaners te alle tye moet beskerm. Seabe sê die party het alle Suid-Afrikaners aangemoedig om waaksaam te wees teen waninligting en fopnuus:
# Private treine kan binne ses tot nege maande op Suid-Afrika se spoorlyne loop. Die uitvoerende hoof van Traxtion, James Holley, sê dit sal ‘n hupstoot wees vir die ekonomie wat deur ‘n wanfunksionele spoorwegdiens gekniehalter word. Holley het die regering gelukgewens met die skep van ‘n beleidsraamwerk, insluitend ‘n nasionale spoorwegbeleid, ‘n plan vir vragvervoer en ‘n raamwerk vir die private sektor se deelname aan die spoorweë. Die bekendstelling van private treine sal ‘n mylpaal wees om die land se spoorwegnetwerk nuwe lewe te gee.
# Meer as 200 mynwerkers het met ‘n sitstaking begin in die Kwezi-skag van die Sibanye-Stillwater-myn in Rustenburg, Noordwes. Hulle betoog volgens berigte teen die voorgestelde aandeel-eienaarskema vir werknemers van Kroondal. Sibanye-Stillwater se woordvoerder, James Wellsted, sê onderhandelings oor die skema se besonderhede gaan voort tussen die maatskappy en vakbonde. Hy beklemtoon die voorstel is nog nie ingestel nie omdat die verkryging van Anglo Platinum se 50-persent-aandeel in die Kroondal-ooreenkoms nog nie afgehandel is nie.
# Krieket: Die owerhede in New York het sekerheid opgeskerp by die tydelike stadion in Long Island wat gisteraand sy eerste wedstryd van die T20-Wêreldbekertoernooi aangebied het tussen Suid-Afrika en Sri Lanka. Polisie-skerpskutters is ontplooi om die stadion met 34-duisend sitplekke te beveilig om seker te maak wedstryde word sonder voorval gespeel. Die laaste wedstryd in die stadion, Sondag tussen die aartsvyande Indië en Pakistan, word beskou as die belangrikste groepskragmeting, met ‘n groep met bande met Islamitiese Staat wat dreig om die toernooi te teiken.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-73-sent teen die dollar, 20-rand-37-sent teen die euro en 23-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-671-dollar-42-sent. Die prys van goud is twee-duisend-331-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….