Nuus 13:00
BULLETIN 2 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê die ANC het geen rede om fees te vier nie
# Mexikaanse kiesers maak dalk vandag geskiedenis met die verkiesing van die land se eerste vroue-president
# En, tennis: Auger-Aliassime speel in die laaste 16 teen Alcaraz
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, sê daar is niks vir die party om oor fees te vier nie nadat hy vir die eerste keer in 30 jaar sy meerderheid verloor het, wat Suid-Afrika op ‘n nuwe politieke pad plaas. Mbalula beweer egter die ANC bly die gewildste party met meer as ses-miljoen stemme en die meerderheid in vyf provinsies. Hy bedank hulle ondersteuners en beklemtoon die uitslag bewys die behoefte om die party se hernuwingspogings te versterk:
Die leier van die DA in Gauteng, Solly Msimanga sê intussen, premier Panyazi Lesufi se foefies het misluk. Die ANC het 34,84-persent van die stemme in die provinsie gekry, wat ‘n daling van 15-persentasiepunte van die verkiesing in 2019 is, toe hy 50,19-persent van die stemme ontvang het. Die party sal nou ‘n koalisie-regering moet vorm. Msimanga sê Lesufi en die ANC was desperaat en het geweet hulle was besig om die mag te verloor. Hy sê dit is hoekom hulle staatsbronne gebruik het om sogenaamde werksgeleenthede te skep, waarvoor nie begroot is nie.
In ander verkiesingsnuus, het ‘n kenner van Afrika-politiek, Innocent Basani-Ncube, die Verkiesingskommissie geloof vir sy rol om mense in landelike gebiede in te lig. Hy het die verkiesingsproses waargeneem en gesê ondanks uitdagings, was kiesers goed ingelig. Hy het beklemtoon die kommissie kon in sommige areas beter gedoen het. Basani-Ncube sê hy was beïndruk oor hoe goed die OVK-amptenare die nuwe drie-stembrief-stelsel verduidelik het:
# Verkiesingsnuus uit Mexiko, is dat Mexikaanse kiesers dalk vandag geskiedenis gaan maak deur moontlik hulle eerste vroulike president te verkies. Dit sal ‘n mylpaal wees in die misdaadgeteisterde land waar geslagsgeweld en diskriminasies lank reeds hoogty vier. Die regerende party se kandidaat, Claudia Sheinbaum, is ʼn opgeleide wetenskaplike en voormalige burgemeester van Mexiko Stad. Sy is op die vooraand van die stemmery 17 punte voor haar hoofopposisie, Xochitl Galvez. Die enigste man in die presidentswedloop, Jorge Alvarez Maynez, is ver agter. Dit was ʼn besonder gewelddadige veldtog waartydens talle kandidate vermoor is.
# En laastens, Tennis: Felix Auger-Aliassime het ‘n plek bespreek in die laaste 16 van die Franse Ope teen Carlos Alcaraz nadat hy Ben Shelton van Amerika uitgeskakel het. Die 21ste gekeurde Kanadees het op ‘n drafstap met 6-4, 6-2, 6-1 met sy 15de gekeurde teenstander klaargespeel. Auger-Aliassime het in 2022 in die vierde ronde in Parys in vyf stelle teen Rafael Nadal vasgeval. Die 23-jarige se loopbaan-rekord teen die wêreld nommer drie, Alcaraz, is drie oorwinnings teen twee maar hulle het nog nie voorheen op klei kragte gemeet nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….