Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 1 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# MK Party sê ‘n ANC-koalisie is ononderhandelbaar met Ramaphosa nog daar
# Maimane aanvaar die uitslag van die verkiesing
# En, rugby: Drua beëindig die Crusaders se hoop om die Super Rugby-kwarteindronde te haal
# Oudpresident Jacob Zuma se dogter, en die MK Party se nasionale uitvoerende komiteelid, Duduzile Zuma-Sambudla, sê die MK Party sal sy standpunte handhaaf vir onderhandelings in koalisiegesprekke. Zuma-Sambudla het by die Verkiesingskommissie se nasionale uitslagsentrum in Midrand gesê die MK Party sal slegs ‘n koalisie met die ANC oorweeg op voorwaarde dat president Cyril Ramaphosa afgedank word. Sy sê die MK-party sal slegs met eendersdenkende organisasies saamwerk, insluitend die EFF:
# Build One South Africa se leier, Mmusi Maimane, sê intussen hy aanvaar die uitslag van die verkiesing. Die party het net 0,4-persent van die stemme op nasionale vlak gekry. Maimane, wat vanoggend die media by die Verkiesingskommissie se nasionale uitslagsentrum in Midrand toegespreek het, sê BOSA is steeds vasbeslote om ‘n inklusiewe en nie-rassige Suid-Afrika te help bou wat die behoeftes van Suid-Afrikaners eerste stel:
Met die meeste stemdistrike nou afgehandel, is die ANC nasionaal voor met 40,3-persent. Die DA is tweede met 21,62-persent en die MK Party derde met 14,71-persent. In Gauteng loop die ANC voor met 34,55-persent, gevolg deur die DA met 27,77-persent en die EFF met 12,89-persent. In die erg betwiste KwaZulu-Natal is MK op 45,35-persent, die IVP tweede met 18,04-persent en die ANC op 16,97-persent. In die Wes-Kaap loop die DA voor met 55,34-persent van die stemme, gevolg deur die ANC met 19,45-persent en die Patriotic Alliance met 7,85-persent.
# In Indië het die land se kiesers vandag in versengende hitte in die Hindoe-heilige stad Varanasi na die stembus gestroom op die laaste dag van ‘n marathon nasionale verkiesing, ses weke nadat die stemproses begin het. Die algemene verwagting is dat premier Narendra Modi ‘n derde termyn sal wen, grootliks vanweë sy gekultiveerde beeld as ‘n daadwerklike kampvegter vir Indië se meerderheidsgeloof. Die 73-jarige Modi se Varanasi-kiesafdeling is die geestelike hoofstad van Hindoeïsme, waar toegewydes van regoor Indië kom om geliefdes wat gesterf het op die Ganges-rivieroewer te veras.
# En ons sluit af met Rugby: Die Drua van Fidji het die Melbourne Rebels met 40-19 oorweldig en die laaste plek in die Super Rugby-kwarteindronde opgeraap. Dit het die uitspeelhoop van die Canterbury Crusaders beëindig. Die Drua het vroeg in die tweede helfte drie drieë gedruk wat hulle ‘n bonuspunt besorg en na die sewende plek opgeskuif het. Die Rebels sal agste eindig, wat beteken hulle speel die eerste keer in 14 seisoene in volgende week se kwarteindronde. Dit kan hulle laaste wedstryd wees nadat ʼn privaat aanbod om die skuld-belaaide klub te red, verwerp is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….