Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 31 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA herhaal sy toewyding tot die veelpartyhandves
# Die Blitsbokke se afrigter vra konsekwentheid in Madrid
# En Sony Music beraadslaag om Queen se musiekkatalogus vir meer as 18-miljard-rand te koop
# Die DA het sy toewyding aan die veelpartyhandves herhaal ondanks berigte dat die ANC dit oorweeg om met die party saam te werk indien hy nie ‘n parlementêre meerderheid kry nie. DA-woordvoerder Solly Malatsi sê daar was geen koalisie-gesprekke met die ANC nie. Hy sê die DA bly toegewy aan die veelpartyhandves, en alle lidpartye moet daarna mik om gesamentlik te groei om hul posisie van ‘n meerderheid van 50-persent plus een te versterk. Hy sê die handves sal ná die amptelike uitslae die toekomstige rigting van die koalisie bespreek.
Nadat net meer as 61-persent van die stemme getel, is die ANC nasionaal steeds voor met 41,94-persent. Die DA is tans tweede met 22,97-persent en die MK-party derde met 11,66-persent. In Gauteng loop die ANC voor met 33,57-persent, gevolg deur die DA met 29,31 en die EFF met 12,55. In die erg betwiste KwaZulu-Natal is MK op 43,95-persent, die ANC tweede met 18,98 en die IVP op 15,42. In die Wes-Kaap loop die DA voor met 52,85-persent van die stemme, gevolg deur die ANC met 20,41-persent en die Patriotic Alliance met 8,96-persent.
Oudpresident Uhuru Kenyatta van Kenia en oudpresident Goodluck Jonathan van Nigerië sê intussen hulle glo die Verkiesingskommissie sal geloofwaardige uitslae bekendmaak. Albei het internasionale waarnemingsendings na die verkiesing gelei. Kenyatta het sy hoop uitgespreek dat sommige van die stelsel-haakplekke wat Woensdag by stembusse voorgekom het, in die toekoms vermy kan word:
# Rugby: Die Springbok Sewes het hulle voorbereidings afgehandel vir die finale toernooi van die reeks, die Grand Finale, dié naweek in Madrid. Al agt spanne speel vandag en môre hulle groepwedstryde, met die top twee spanne uit elke groep wat deurdring na Sondag se halfeindstryde. Die Blitsbok-afrigter Philip Snyman sê die span moet terugkeer na hulle bewese vermoë om al ses wedstryde in ‘n toernooi te wen:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-85-sent teen die dollar, 20-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-920-dollar-70-sent. Die prys van goud is twee-duisend-342-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-3-sent per vat.
# En ten slotte: Sony Music beraadslaag volgens berigte om Queen se musiekkatalogus vir meer as 18-miljard-rand te koop. Die rockgroep met voorsanger Freddie Mercury wat in 1991 dood is, is bekend vir liedjies soos Bohemian Rhapsody, We Will Rock You en Another One Bites The Dust. Sony het vroeër vanjaar ook ‘n 50-persent-aandeel in wyle Michael Jackson se musiek uit sy boedel aangekoop. Sterre soos Beyoncé, Bob Dylan, Neil Young, Shakira en Barry Manilow het almal die afgelope jare hulle musiekregte verkoop.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….