Nuus 13:00
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 11 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Oos-Kaapse regering neem kennis van die Menseregtekommissie se verslag oor kinderwanvoeding
# Die WGO sê kinders met kanker is uit Gaza ontruim vir behandeling in Egipte en Jordanië
# En, sokker: Alle oë is op die FNB-stadion vir die Soweto Derby
# Die Oos-Kaapse regering het kennis geneem van die verslag van die Suid-Afrikaanse Menseregrtekommissie oor die kommerwekkende voorkoms van kinderwanvoeding en die reg tot voedsel. Die provinsiale regering sê hy het verskeie beleidsingrypings en strategië ingestel om die uitdagings van armoede, ongelykheid en werkloosheid te takel. ‘n Woordvoerder van die departement , Khuselwa Rantjie, sê dit sluit in die aanspreek van die lot van kinderwanvoeding in sekere gebiede van die provinsie:
Speel klankgreep: ENG KhuselwaonChildMalnutrition
# Die Nasionale Tesourie is besig met die versterking van sy maatskaplike noodverligting-hulpstelsel om te keer dat mense dit uitbuit en onregmatig bevoordeel word. Ondanks die vermindering van die fiskale jaar se toekenning van 44-miljard-rand tot 35-miljard-rand, het die adjunk-direkteurgeneraal, Mampho Modise dit duidelik gemaak dit is hulle doel om diegene wat werk het, te verhoed om die stelsel te manipuleer. Strenger kriteria sluit in ‘n bankbalans-perk en die nagaan van mense met verskeie rekenings. Aansoekers moet elke drie maande weer aansoek doen om te verseker hulle het nie intussen werk gekry nie. Die maatreëls is om die toelaagstelsel se integriteit te beskerm.
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê 12 kinders met kanker of ander bloed-afwykings is saam met hulle toesighouers uit die Gaza-strook se besette Palestynse gebied ontruim. Hulle is na Egipte en Jordanië geneem sodat hulle behandeling veiilig kan voortgaan. Nog kinders sal na verwagting vir kankerbehandeling as deel van die iniasiatief ontruim word. Die WGO het die ontruimings verwelkom en benadruk die volhoubare en geordende, onbelemmerde en veilige ontruimings van swaargewonde mense en siek pasiënte na en via Egipte deur die Rafah-grenspos is noodsaaklik.
# Sokker: Kaizer Chiefs en Orlando Pirates se ondersteuners het die FNB-stadion reeds volgepak vir vanmiddag se Soweto derby. Vroeër die week het die Amakhosi en die Buccaneers hulle PSL-wedstryde teen onderskeidelik Cape Town Spurs en Sekhukhune United gewen. Chiefs het Spurs met 3-2 geklop en Pirates het Sekhukhune met 1 – 0 die loef afgesteek. Pirates is nou tiende op die Premiersskap-punteleer – twee punte agter Chiefs. ‘n Oorwinning vir die Bucs sal hulle na die top agt laat opskuif. Die wedstryd skop om half-vier af.
# En ten slotte: Die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing het ‘n munisipale skoonmaak- en vergroenings-veldtog van stapel gestuur. Dit vorm deel van die Uitgebreide Openbare Werke-program, en is daarop gemik om meer as sewe-duisend-250 onwettige stortings-brandpunte landwyd skoon te maak. Minister Barbara Creecy sê die projek sal in groot stede ingestel word, insluitend Kaapstad, Sol Plaatjie, Mafikeng, Msunduzi, Polokwane, Johannesburg, Ekurhuleni, Tshwane, Mogale City, Sedibeng, Mbombela en Mangaung. Die veldtog sal meer as 37-duisend werksgeleenthede skep en bydra tot die volhoubaarheid van die omgewing.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….