Nuus 13:00
BULLETIN 10 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Finansiële waghond lê boetes van 120-miljoen-rand op te midde van ‘n afname in groot bedrogsake
# AfriForum is teleurgesteld omdat Kodering en Robotika as verpligte vak in skole gestaak is
# En Caster Semenya wen ‘n geskiedkundige saak in die Europese Hof vir Menseregte
# Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor het onthul hy het in die afgelope boekjaar boetes van byna 120-miljoen-rand opgelê. Dit is ‘n afname ná die vorige jaar en word toegeskryf aan die feit dat grootskaalse bedrogsake, soos dié van Steinhoff, afgehandel is. Die finansiële waghond het voortgesette pogings uitgelig om mark-integriteit te versterk en verbruikers binne Suid-Afrika se finansiële sektor te beskerm. Die kommissaris, Unathi Kamlana, sê die owerheid streef daarna om sy prosesse te verbeter:
# AfriForum is teleurgesteld omdat die Departement van Basiese Onderwys Kodering en Robotika tydelik gestaak het as ‘n verpligte vak in skole. Die departement sê die proses is opgeskort want daar moet eers gefokus word op die verbetering van geletterdheid en syfervaardigheid in die laer grade. Alana Bailey van AfriForum sê dis duidelik dat die departement erken hy kan nie die versekering gee dat gehalte-onderwys by die meeste skole aangebied word nie:
Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Nobuhle Nkabane, maan onderwysers intussen om hulle vaardighede op te skerp en vernuwend te wees in die klaskamer. Sy het die Mega Maths-fees by die Universiteit van die Wes-Kaap toegespreek. Die departement bied die fees aan in samewerking met die Europese Unie en die Afrika-instituut vir Wiskundige Wetenskappe. Nkabane sê onderwysers speel ‘n belangrike rol om die regering te help om vaardigheidstekorte in die leer en onderrig van wiskunde aan te vul:
# Atletiek: Die Suid-Afrikaner Caster Semenya het haar saak gewen in die Europese Hof vir Menseregte. Die hof het 2023 se uitspraak gehandhaaf teen die Hof vir Arbitrasie in Sport wat teen die tweemalige Olimpiese 800-meter-kampioen beslis het. Daar is bevind die uitspraak het teen haar gediskrimineer nadat Semenya verbied is om deel te neem weens Wêreldatletiek se reëls oor testosteroon-vlakke. Die reëls is in 2018 ingestel en verbied deelname van atlete met verskille in geslagsontwikkeling. Kenners sê die uitspraak kan geslagsbeleid in sport hervorm en is ‘n reuse-oorwinning vir menseregte.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-79-sent teen die euro en 24-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-172-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-326-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 69-dollar-46-sent per vat.
# En laastens, die rekenaarskyfievervaardiger Nvidia se markkapitalisasie het ‘n rekord vier-duisend-miljard dollar bereik, gelyk aan net meer as 72-duisend-miljard-rand, wat die eerste maatskappy in die wêreld is om die mylpaal te bereik. Aandele van die vooraanstaande skyfie-ontwerper het met 2,8-persent gestyg tot ‘n algehele hoogtepunt van net meer as twee-duisend-959-rand danksy ‘n voortdurende vraag na kunsmatige intelligensie-tegnologie. Nvidia se stygende markwaarde benadruk Wall-straat se vertroue in die vinnige groei van KI. Die maatskappy se hoë-prestasie-skyfies is die ruggraat van die tegnologiese vooruitgang.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….