Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Bykomende lede van die openbare orde polisie-eenheid word in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap ontplooi
# Cosatu sê alle werkers moet hul grondwetlike reg om te stem kan uitoefen
# En, krieket: Jos Buttler gaan die derde T20 teen Pakistan misloop weens vaderskapsverlof
# Bykomende lede van die openbare orde-polisie-enheid is in verskeie dele van KwaZulu-Natal en in Mthatha in die Oos-Kaap ontplooi om wetstoepassers by te staan. Die polisie het sy maksimum hulpbronne ontplooi om wetteloosheid in Mthatha te beveg waar taxibestuurders paaie versper. Vyf mense is in hegtenis geneem. Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, sê nog 700 lede van die openbare orde-polisie-eenheid is in die twee provinsies ontplooi:
Cosatu doen intussen ‘n dringende beroep op alle nie-noodsaaklike sakeondernemings om hul werkplekke op stemdag te sluit sodat alle werkers hul grondwetlike reg om te stem kan uitoefen. Vandag is die tweede dag waarop spesiale stemme uitgebring kan word voor stemdag. Matthew Parks van Cosatu sê enige werker wie se reg om te stem deur sy werkgewer bedreig word, moet dit by die polisie of die vakbondfederasie aanmeld:
# Die Filippyne maak beswaar teen China se visvangverbod van vier maande in die Suid-Chinese See, en noem dit ‘n verbreking van Filippynse soewereiniteit. Die ministerie van Buitelandse Sake sê die verbod verhoog spanning in die streek. China maak aanspraak op byna die hele Suid-Chinese See, wat ‘n lewensbelangrike seeroete is wat jaarliks meer as 55-duisend-miljoen-rand werd is. Dit oorvleuel met gebiede waarop die Filippyne, Vietnam, Indonesië, Maleisië en Brunei aanspraak maak. Die Filippynse minister van Verdediging, Gilberto Teodoro, beskryf die reëls van China se Kuswag as uitlokkend.
# Krieket: Engeland se kaptein, Jos Buttler, sal nie vandag in Cardiff, Wallis, in die derde T20-kragmeting teen Pakistan speel nie. Hy is met vaderskapsverlof vir die geboorte van sy derde kind. Moeen Ali sal die span lei, met Jonny Bairstow of Phil Salt as paaltjiewagter. Engeland het die tweede wedstryd gewen nadat die eerste een weens reën afgelas is. Die laaste wedstryd vind Donderdag plaas. Die reeks dien as voorbereiding vir die T20-Wêreldbekertoernooi wat Saterdag in die Karibiese Elande en Amerika begin.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-98-sent teen die euro en 23-rand-48-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-50-dollar-26-sent. Die prys van goud is twee-duisend-342-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-7-sent per vat.
# En ten slotte: Nuwe voorstedelike woude is in Kaapstad aangeplant in gebiede soos Langa, Mitchells Plain, die Bo-Kaap, Pinelands en Philippi. Dit is gedoen volgens die Japannese Miyawaki-bosaanplantingstegniek, of deur inheemse plante te vestig wat vinnig groei. Die organisasie sonder winsoogmerk, Mzanzi Organics, het saam met plaaslike skole 800 inheemse bome en struike in Langa geplant en so die gebied se eerste woud gevestig. Belangrike spesies in Kaapstad se woude sluit in assegaai-, geelhout-, melkhout-, rooi-els en keurbome.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….