Nuus 13:00
BULLETIN 27 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika teken die tweede laboratoriumbevestigde geval van a-pokke aan
# Die DA in Gauteng sê meer as 38-duisend pasiënte wag vir operasies
# En, krieket: KKR se sterbouler Starc is gereed vir die Wêreldbekertoernooi ná ‘n snikhete IPL
# Suid-Afrika het die tweede laboratoriumbevestigde geval van a-pokke aangeteken. Die aansteeklike siekte word deur die a-pokvirus veroorsaak en kan lei tot ‘n pynlike of jeukerige uitslag met puisies of blasies. Die woordvoerder van die Gesondheidsdepartement, Foster Mohale, sê die nuwe pasiënt is ‘n 39-jarige man wat in die Addington-hospitaal in Durban, KwaZulu-Natal, opgeneem is. Hy sê hy het nie gereis na lande en streke wat tans ‘n uitbreking van die siekte beleef nie:
# Die DA in Gauteng sê 38-duisend-164 pasiënte wag op operasies in provinsiale hospitale ondanks dat die LUR vir Gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko sê dat alle operasie-agterstande uitgewis is. Die langste waglys is sewe-duisend-366 pasiënte by die Steve Biko-hospitaal. Jack Bloom van die DA sê die belangrikste redes vir die lang waglyste is onder meer personeelvakatures, ‘n tekort aan hoësorgbeddens vir nasorg, beperkte teatertyd, infrastruktuurprobleme en water- en kragonderbrekings:
# Binnelandse Sake het bevestig al sy kantore sal vanaand en môre-aand tot sewe-uur oop bly om mense by te staan wat spesiale stemme uitbring. Die kantore sal vir diegene met ID-kwessies tydelike identiteitsertifikate verskaf, wat aanvaar sal word deur die Verkiesingskommissie. Die departement bevestig ook sy kantore sal Woensdag op stemdag oop bly tot die stembusse sluit.
# Krieket: Die Australiese snelbouler Mitchell Starc sê hy is gereed vir die T20-Wêreldbekertoernooi ondanks die uitmergelende bo-normale hitte van die Indiese Premierliga. Hy het uitgeblink vir Kolkata Knight Riders in gister se eindstryd teen Sunrisers Hyderabad, wat hulle met agt paaltjies gewen het. Starc het sy hoë prys van byna 55-miljoen-rand regverdig toe hy 17 paaltjies in 13 wedstryde laat kantel het. Die Wêreldbekertoernooi begin Saterdag in die Karibiese Eilande en Amerika, en Australië se eerste wedstryd is volgende Donderdag teen Oman.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-97-sent teen die euro en 23-rand-46-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-517-dollar-51-sent. Die prys van goud is twee-duisend-344-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-35-sent per vat.
# En, navorsing toon goudmyne in Johannesburg laat reeds 140 jaar lank afvalwater uitlek wat met swaar metale besmet is. Die suur-dreinering uit Johannesburg se sowat 278 verlate myne en 200 mynhope sluit uraan, koper, nikkel en sink in. Dit lei daartoe dat 1,9-miljoen inwoners van Soweto aan suurmyn-dreinering blootgestel word. Die skrywers van die navorsingstuk sê ernstige blootstelling aan hierdie swaar metale kan lei tot geboorte-afwykings, breinskade, kanker en miskrame.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….