Nuus 13:00
BULLETIN 22 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Inflasie verstadig in April verder tot 5,2-persent
# AfriForum is in besit van die dossier oor Mbalula se gesinsvakansie in Dubai
# En, sokker: Rashford word uitgelaat uit Engeland se groep vir Euro 2024
# Jaarlikse verbruikersinflasie het verlede maand verder verstadig. Die verbruikersprys-indeks het in April ‘n styging aangeteken van 5,2-persent, vanaf 5,3-persent in Maart en 5,6-persent in Februarie. Statistiek SA sê algemene voedselinflasie het ook gedaal, behalwe vir groente, vrugte en warm drankies. Inflasie vir voedsel en nie-alkoholiese drankies was meer gematig, van 5,1-persent in Maart tot 4,7-persent in April, wat ‘n vyfde agtereenvolgende maand van afname verteenwoordig. Brood- en graan-inflasie was ‘n twaalfde agtereenvolgende maand laer. Rys-inflasie het met 26,4-persent opgeskiet, die hoogste sedert Mei 2009.
# AfriForum se privaat vervolgingseenheid het die polisiedossier oor die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, se gesinsvakansie in Dubai in 2016 bekom. Die voormalige openbare beskermer, Busisiwe Mkhwebane, het bevind Mbalula het die Grondwet oortree deur ‘n verskaffer van die sportkonfederasie, Saskok, te vra om te help betaal vir die reis toe hy die minister van Sport was. Die Nasionale Vervolgingsgesag wou nie vervolg nie. Barry Bateman van die eenheid sê hulle is nou meer oortuig daar is ‘n saak teen Mbalula:
# ActionSA het die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling se hantering van gekwalifiseerde landbouers veroordeel. Die departement het verlede jaar assistent-landbouers gehuur onder die voorwendsel dat hulle met verloop van tyd permanent aangestel sal word. Mpumi Edward van ActionSA sê hulle is aanvanklik ‘n drie jaar kontrak beloof, maar die departement het sy belofte verbreek. Sy sê hulle het kontrakte vir drie maande gekry wat later onbepaald opgeskort is:
# Sokker: Manchester United se voorspeler, Marcus Rashford, het die prys betaal vir sy swak seisoen toe Engeland se afrigter, Gareth Southgate, hom uitgelaat het uit sy voorlopige groep van 33 vir Euro 2024. Liverpool se gewese kaptein, Jordan Henderson, en Chelsea se kaptein, Reese James, is ook nie in die groep nie. Die groep moet tot ‘n maksimum van 26 verklein word voor die toernooi volgende maand in Duitsland begin. Adam Wharton van Crystal Palace, Jarrad Brantwhaite van Everton en Jarell Quansah en Curtis Jones van Liverpool is die nuwelinge in die groep.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-17-sent teen die dollar, 19-rand-71-sent teen die euro en 23-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-946-dollar-92-sent. Die prys van goud is twee-duisend-417-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-74-sent per vat.
# En ten slotte, die uitsig op die hoogste bergpiek in Japan, die majestieuse Berg Fuji, is met ‘n groot swart maasskerm versper. Die spits van drie-duisend-776-meter met sy sneeubedekte kruin is een van die mees ikoniese toeriste-aantreklikhede in die land. Inwoners van Fuji Kawaguchiko kla oor rommelstrooiery in die dorp se skoon strate. Die skerm is ‘n desperate stap en ‘n teken van hoe Japan spook om die groeiende aantal toeriste in die land te hanteer. Van die inwoners wonder nou egter wanneer iemand ‘n gat in die skerm gaan sny om weer die uitsig te geniet.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….