Nuus 13:00
BULLETIN 15 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa besoek die ramptoneel in George
# Minister Nxesi sê werkloosheid is ‘n wêreldwye uitdaging
# En, tennis: Spelers soos Williams, Halep en Thiem word nie gekies as promotorskeuses vir die Franse Ope nie
# President Cyril Ramaphosa besoek die ramptoneel in George môre na die dodelike ineenstorting van ‘n deels-voltooide woonstelgebou. Die regering en rampbestuuragentskappe het sedert die voorval verlede Maandag op alle vlakke personeel en bronne mobiliseer vir die reddingspoging en steun gegee aan die oorlewendes en die families van die slagoffers. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die president volg die reddings- en opspoorpogings nougeset en spreek sy diepe meegevoel uit met die familie en vriende van die slagoffers. Die sterftesyfer staan tans op 33.
# Die minister van Indiensneming en Arbeid, Thulas Nxesi, sê werkloosheid is nie net ‘n Suid-Afrikaanse uitdaging nie, maar ‘n wêreldwye probleem. Statistiek Suid-Afrika het onthul die amptelike werkloosheidskoers het in die eerste kwartaal van die jaar gestyg van 32,1- tot 32,9-persent. Nxesi sê tegnologiese vooruitgang vervang talle werksgeleenthede, wat die behoefte meebring vir oplossings om volhoubare werksgeleenthede te skep:
# Die Suid-Afrikaanse Natuurlewe-rehabilitasiesentrum in Gauteng het inwoners en motoriste in Mnandi, Centurion, in kennis gestel oor berigte van ‘n groot koedoe-koei wat los rondlooploop. Leanne Hezlett van die sentrum het inwoners versoek om die owerhede in kennis stel indien hul die dier gewaar. Gister het hulle ‘n jong koedoebul verdoof in die omgewing, maar hy het ongelukkig gevrek. Hezlett het ook gewaarsku daarteen om te probeer om die dier te vang, wat bang en aggressief is:
# Tennis: Die Grand Slam-kampioene Venus Williams, Simona Halep, Caroline Wozniacki en Emma Raducanu is nie genooi as promotorskeuses vir die Franse Ope nie weens hulle posisies op die wêreldranglys. Die voormalige Amerikaanse Ope-kampioen, Dominic Thiem, wat aan die einde van die seisoen uittree, het ook nie plek gekry nie. Thiem, Wozniacki en Raducanu kan steeds plek kry in die hooftrekking deur die kwalifiseringstoernooi, wat Maandag begin. Die tweede Grand Slam-toernooi van die jaar begin volgende Sondag in Parys.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-91-sent teen die euro en 23-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-942-dollar-57-sent. Die prys van goud is twee-duisend-372-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-74-sent per vat.
# En ten slotte: Agt horlosies wat aan die die Formule Een-ikoon, Michael Schumacher, behoort het, is vir sowat 74-miljoen-rand verkoop op ‘n veiling in Genève, Switserland. Die duurste een is ‘n horlosie wat die voormalige uitvoerende hoof van Ferrari, Jean Todt, in 2004 aan die Duitse renjaer as ‘n Kersgeskenk gegee het. Schumacher, wat in 2013, ‘n jaar na sy uittrede, in ‘n ski-ongeluk was, deel die rekord van sewe F1-titels met die Brit Lewis Hamilton.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….