Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 14 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……….
In die bulletin:
# Die UDM bevraagteken die motief vir die ANC se haastige optrede
# My Vote Counts sê geen beperking op skenkings aan partye is oortreding van Grondwet
# Tennis: Jannik Sinner kan op Roland Garros wêreld se nommer een-speler word
# Die UDM sê dit lyk of die ANC ‘n bonatuurlike ommekeer ondergaan het, met beurtkrag wat verdwyn het en munisipaliteite wat skielik dienslewering vooropstel. Die sekretaris-generaal, Yongama Zigebe, sê dit is noodsaaklik vir kiesers om dié optrede krities te evalueer en te vra of dit ware verandering is, of slegs verkiesingstaktiek. Hy sê die skielike gedragsverandering van die ANC laat vrae ontstaan oor die party se opregtheid en motiewe:
Politieke partye en burgerregtegroepe maak intussen beswaar teen die afwesigheid van beperkings op skenkings in die Wysigingswet op Verkiesingsake omdat hulle bekommerd is oor deursigtigheid en aanspreeklikheid. Ramaphosa het die wetgewing bekragtig sonder dat enige perke op skenkings vir politieke partye vasgestel is. Partye moes voorheen skenkings van meer as 100-duisend rand verklaar. My Vote Counts het ‘n hof-aansoek gebring vir ‘n tussentydse bevel dat ‘n perk vir skenkings weer ingestel moet word, omdat die wet volgens hulle strydig is met die Grondwet en dus ongeldig is.
# Die Black Business Council hou die Departement van Arbeid, gelei deur minister Thulas Nxesi, aanspreeklik vir die ineenstorting van ‘n gebou in George. Visepresident, Greg Mofokeng, wys op gedeelde aanspreeklikheid tussen die departement., aangestelde gesondheid- en veiligheidsbeamptes en ander belanghebbendes. Hy sê te min inspekteurs vertraag inspeksies van werksplekke, insluitende boupersele, landwyd. Mofokeng eis ‘n deeglike ondersoek om te bepaal wat het tot die ineenstorting aanleiding gegee en die vestiging van protokolle vir die boubedryf.
# Die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, sê die misdaadsituasie in die land vereis noodoptrede en die nodige hulpbronne daarvoor. Die premier het die gesin van die vyfjarige Ditebogo Junior Phalane besoek wat Vrydag buite sy ouerhuis in Soshanguve doodgeskiet is. Lesufi sê moderne tegnologie, stelsels en vernuwing is nodig om misdaadbekamping uitvoerbaar te maak:
# Tennis: Daar wag ‘n groot aansporing vir Jannik Sinner op die Franse Ope. Novak Djokovic van Serwië se vroeë uitskakeling in die Italiaanse Ope beteken die Italianer kan op Roland Garros by hom oorneem as die wêreld nommer een. Die Chileen Alejandro Tabilo het Djokovic Sondag in skoon stelle geklop, wat beteken selfs al wen hy in Parys vir sy 25ste Grand Slam-titel, sal Sinner die topposisie oorneem deur net die eindstryd te bereik. Sinner is egter tans in ‘n stryd teen tyd gewikkel om betyds fiks te wees.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 23-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-912-dollar-27-sent. Die prys van goud is twee-duisend-347-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….