Nuus 13:00
BULLETIN 2 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA in die Oos-Kaap sê leerdervervoer-afsluiting kon vermy gewees het
# Kaapstad se MyCiTi-busdiens teken 1,6-miljoen passasiersritte aan net vir Maart
# En, motorsport: Suid-Afrika se voorste geleentheid begin vandag in Knysna
# Die DA in die Oos-Kaap sê die afsluiting deur taxi-operateurs weens nie-betaling van leerdervervoer kon heeltermal vermy gewees het as premier Oscar Mabuyane by sy beloftes gehou het. Marshall von Buchenroder van die DA sê die premier het vroeër vanjaar in sy provinsiale rede beloof sy regering is bewus van die probleme in die program en werk daaraan:
# Die Stad Kaapstad se MyCiTi-busdiens het net in Maart 1,6 miljoen passasiersritte aangeteken. Dit is ‘n toename van 233-duisend-163 ritte, teenoor die 1,4-miljoen ritte wat vir Maart 2022 aangeteken is. Die burgemeesterskomiteelid vir Beweeglikheid, Rob Quintas, sê die busdiens verskaf geskeduleerde, veilige, betroubare, bekostigbare én waardige openbare vervoer aan pendelaars. Hy sê hulle brei nou die busdiens se voetspoor uit na die suid-oostelike dele van die metro:
# Die voedsel- en drank-handelsmerkgroep, Clover, sal in Augustus sy Halaal-sertifisering verloor. Die Moslem-Geregsraad se Halaal-trust sê dit is ‘n standpunt teen die konflik in Gaza. Die trust het begin vanjaar opgehou om Clover-produkte as Halaal te sertifiseer. Die bedryfshoof, Moulana Zakariyah Philander, verduidelik, ‘n tydperk van nege maande is voorsien vir die uitfasering van sy logo’s, met die laaste voorraad met die Halaal-logo wat teen Augustus uitfaseer sal wees. Clover is in 2019 gekoop deur ‘n konsortium onder leiding van die Israelse drankfirma Central Bottling Company, Milco.
# Die Amerikaanse Federale Reserweraad het besluit om rentekoerse op ‘n sesde agtereenvolgende vergadering onveranderd te hou. Rentekoerse is die hoogste in 23-jaar om hardnekkige inflasie te beveg. Die Fed sê hy verwag nie om rentekoerse te verlaag totdat hy meer vertroue het dat inflasie volhoubaar beweeg na sy teiken van twee-persent nie. Die voorsitter, Jerome Powell, het op ‘n nuuskonferensie gesê dit sal waarskynlik langer neem as wat verwag is. Hy voeg by dit is onwaarskynlik dat die volgende skuif in rentekoerse opwaarts sal wees.
# Motorsport: Suid-Afrika se voorste motorbestuur- en motorsport-leefstylervaring, die 14de Simola Hillclimb, begin vandag in Knysna in die Suid-Kaap. Ondersteuners sal vanmiddag ‘n wye verskeidenheid klassieke motors in Hedge-straat kan sien. Van môre af is Simola-heuwel vol opwinding wanneer deelnemers aan die Vrydag-klassieke-motorkompetisie begin opwarm, gevolg deur kwalifiserende rondes. Dit sal uitloop op Sondag se klas-eindronde en die opwindende toptien alles-of-niks-wedren om te bepaal wie tot 2024 se Klassieke Koning gekroon word.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-61-sent teen die dollar, 19-rand-93-sent teen die euro en 23-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-731-dollar-79-sent. Die prys van goud is twee-duisend-303-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….