Nuus 13:00
BULLETIN 26 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering word gevra om die Leër te ontplooi tydens die anti-immigrasie-betogings
# Amerika hef tydelik sanksies teen Venezuela op vir verligtingshulp ná die dodelike aardbewings
# En krieket : Latham en Conway plaas Nieu-Seeland op die voorvoet in die beslissende toets teen Engeland
# Die organisasie Young Intelligent Minds of South Africa sê die immigrasiekrisis het ‘n kritieke punt bereik weens die regering se onvermoë om dit vroeër daadwerklik aan te pak. Landwye anti‑immigrasiebetogings word vir Dinsdag beplan. Stigter Jeffrey Mabunda sê hulle neem kennis van die kommer wat organisasies soos March and March en Operasie Dudula opper, maar waarsku die betogings moenie misbruik word om misdadige bedrywighede na te jaag nie:
Die Departement van Binnelandse Sake sê intussen die meeste buitelandse burgers wat onwettig in Suid-Afrika woon, het die land wettig binnegekom en nie deur swakbeheerde grense nie. Hoofdirekteur Sihle Mthiyane sê die meerderheid het wettig deur amptelike grensposte aangekom, maar aangebly nadat hul visums of permitte verval het. Hy sê die departement gaan voort om toesigstelsels en handhawingsmaatreëls te versterk om onwettige immigrasie aan te pak en nakoming te verbeter:
# Die landbou-organisasie, TLU SA, verwelkom die nuwe bek-en-klouseer-beheermaatreëls as ‘n stap in die regte rigting. Die Departement van Landbou het ʼn nuwe raamwerk bekendgestel vir ʼn enkele, geïntegreerde nasionale stelsel om bek-en-klouseer-uitbrekings te bestuur van opsporing tot herstel. Bennie van Zyl van TLU SA sê enige maatreëls wat ingestel word, moenie boerdery-inkomste, voedselsekerheid of die land se vermoë om lewendehawe-produkte uit te voer, ondermyn nie:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse Departement van Finansies se Kantoor vir Buitelandse Batebeheer het gedeeltelik en tydelik beperkings opgehef op alle transaksies wat verband hou met verligtingshulp na die aardbewings in Venezuela. Die twee kragtige aardbewings naby die hoofstad, Caracas, het minstens 235 lewens geëis en meer as vierduisend-300 mense is beseer. Die verligting van beperkings dek die verwerking en oordrag van fondse namens derdeparty-lande na of van Venezuela, mits hulle operasies ondersteun wat deur die spesifieke magtiging gedek word.
# Krieket: Nieu-Seeland se kaptein, Tom Latham, en Devon Conway se aanvangs-vennootskap in die derde en beslissende toets teen Engeland het ‘n rekord van 96-jaar oortref. Die reuse-vennootskap van 317 is die beste ooit vir die Swartpette in Engeland sedert 1930. Hulle is uiteindelik uitgehaal vir onderskeidelik 151 en 157 op die eerste dag op Trent Bridge in Nottingham. Die gashere het die eerste toets op Lord’s in Londen gewen voor die besoekers op die Oval teruggeslaan het. Nieu-Seeland het vandag sy beurt op 361 vir vier hervat.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-44-sent teen die dollar, 18-rand-74-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-25-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-46-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 72-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….