Nuus 13:00
BULLETIN 25 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party vra die speaker van die Parlement vir ‘n geheime stemming oor die wantrouemosie teen Ramaphosa
# Fietsry: Vandag se 19de skof van die Tour de France is verkort na die uitbreking van ‘n aansteeklike veesiekte
# En Abu Dhabi word die negende agtereenvolgende jaar aangewys as die veiligste stad ter wêreld
# Die MK-party het die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, gevra vir ‘n geheime stemming oor die mosie van wantroue teen president Cyril Ramaphosa. Die party sê ‘n geheime stemming sal verseker dat parlementslede hul grondwetlike plig vrylik en sonder vrees vir intimidasie of vergelding kan uitoefen. MK se parlementêre leier, John Hlophe, sê dit is veral belangrik gegewe die sensitiewe aard van die mosie en die potensiële politieke gevolge vir individuele lede. Hy sê ‘n geheime stemming sal die integriteit van die stemproses beskerm.
# Die regering sê misdaad het geen plek in Suid-Afrika nie en hy sal pogings verskerp om dit hok te slaan. ‘n Regeringswoordvoerder, Nokululeko Mtshali, sê wetstoepassingsagentskappe se vermoë om misdaad op te spoor, te ondersoek en te vervolg word versterk. Sy sê die stryd teen misdaad word landwyd verskerp en hulle fokus op brandpunte en gebiede wat aanhoudend deur geweld geraak word:
# BetterBond sê laer rentekoerse kan groei in die eiendomsmark verder stimuleer. Die huisleningmaatskappy sê verbandgoedkeurings het die afgelope jaar met 13,6-persent gestyg en aansoeke met 7,4-persent. Bradd Bendall van die maatskappy sê laer rentekoerse het kopersvertroue verbeter, en ‘n moontlike rentekoersverlaging volgende week kan groei in die eiendomsmark verder stimuleer:
# Fietsry: Vandag se 19de skof van die Tour de France is verkort nadat die uitbreking van ‘n aansteeklike veesiekte die owerhede gedwing het om toegang tot ‘n deel van die roete te beperk. Die opdraende deel van 129,9-kilometer van die roete tussen Albertville en La Plagne is gekanselleer om die betrokke sone te vermy, en die skof sal nou slegs 95-kilometer lank wees. Die moordende tydren loop Sondag in die Franse hoofstad Parys ten einde.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-74-sent teen die dollar, 20-rand-82-sent teen die euro en 23-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-714-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-348-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-69-sent per vat.
# En laastens: Abu Dhabi is die negende agtereenvolgende jaar amptelik aangewys as die veiligste stad ter wêreld. Dit is volgens 2025 se verslag van die globale statistiekwebwerf Numbeo. Abu Dhabi het ‘n veiligheidspunt van 85,2 uit 100 behaal. Dit word bepaal deur die siening van misdaadvlakke, ‘n veiligheidsgevoel tydens uitstappies in die nag asook kommer oor geweldsmisdaad, diefstal en diskriminasie. Doha is die tweede veiligste stad ter wêreld, gevolg deur Dubai.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….