Nuus 13:00
BULLETIN 6 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Hill-Lewis is optimisties oor die DA en Suid-Afrika se toekoms
# Pous Leo begin sy reis van 12 dae na Uruguay, Argentinië en Peru
# En gholf: Daar sal geen LIV 2.0 wees terwyl likwidasiefase naderkom nie
# Die DA-leier, Geordin Hill-Lewis, is optimisties oor Suid-Afrika se toekoms en vra politieke leiers om hul verskille opsy te skuif en burgers eerste te stel. Die party staan op die punt om Kaapstad met ‘n volkome meerderheid te regeer en is ook op koers om die grootste party te wees in Johannesburg, Tshwane, Ekurhuleni en Nelson Mandelabaai. Hill-Lewis sê kiesers sien die DA se pogings raak om almal se lewensomstandighede en waardigheid te verbeter:
Die nuutgestigte Service Delivery-party maak intussen vordering in Mpumalanga en het 15 raadsetels ingepalm met byna 80-persent van die stemme wat getel is. Die party het die meerderheid behaal in die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit met 39-persent van die stemme en sewe setels. Die ANC behou intussen die meerderheid in verskeie munisipaliteite, hoewel talle rade onbeslis is. Die MK-party en die SAKP het ook steun gekry in Mkhondo en Bosbokrand.
# Sterk wind en hewige storms het groot skade aangerig in dele van die Vrystaat en talle inwoners geraak. Die woordvoerder vir die provinsiale Departement vir Samewerkende Regering, Tradisionele Sake en Menslike Nedersettings, Zimasa Mbewu, sê gebiede soos Tweespruit, Welkom en Odendaalsrus is swaar getref. Mbewu sê verskeie huise het volgens berigte skade opgedoen toe sterk wind dakke afgewaai het, en inwoners moet nou die gevolge dra:
Nuus uit die buiteland:
# Pous Leo het vanoggend uit Rome vertrek op sy reis van 12-dae na Latyns-Amerika – slegs drie weke na sy operasie om ‘n kankergewas uit sy regterlong te verwyder. Die 71-jarige gaan Uruguay, Argentinië en Peru besoek, waar miljoene mense na verwagting sal opdaag om hom te sien. Latyns-Amerika is die tuiste van ongeveer 40-persent van die wêreld se 1,4-miljard Katolieke. Die Vatikaan sê geen buitengewone maatreëls word getref rondom die pous se gesondheid nie, want hy word nie beskou as iemand met ‘n blywende mediese toestand nie.
# Gholf: LIV Gholf het planne bevestig om bedrywighede af te skaal en ‘n likwidasieproses te begin weens ‘n gebrek aan finansiële ondersteuning. Die wegbreek-liga kon nie nuwe beleggings lok nadat BC Partners Credit sy beplande ondersteuning van 4,98-miljard-rand vir volgende jaar gekanselleer het nie. Dit volg nadat hoëprofiel-spelers soos Louis Oosthuizen, Jon Rahm, Tyrrell Hatton en Sergio Garcia aan die liga onttrek het. LIV sê hy oorweeg steeds enige alternatiewe met derde partye wat waarde toevoeg tydens die afskaalproses.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-49-sent teen die dollar, 18-rand-43-sent teen die euro en 22-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-134-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-77-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 100-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….