Nuus 13:00
BULLETIN 15 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA daag die leiers van die vier grootste partye uit om leefstyloudits te ondergaan
# Gauteng wil behandeling van antiretrovirale terapie volhou
# En die Olimpiese vlam se reis begin van Olimpia na Parys
# ActionSA sê hy het die leiers van die vier grootste partye in die Nasionale Vergadering – die ANC, die DA, die EFF en die IVP – gevra om binne14 dae vrywillige leefstyloudits te ondergaan. ActionSA se leier, Herman Mashaba, sê die onafhanklike forensiese deskundige, Paul O’Sullivan, het reeds ingestem om hierdie leefstyloudits te doen teen ‘n geraamde koste van vyf- tot tienduisend-rand, wat ActionSA sal betaal:
# Volgens voorlopige syfers van Desember verlede jaar tot Februarie vanjaar, het 466-duisend-469 internasionale passasiers by die Kaapstadse Internasionale Lughawe aangekom. Dit ondersteun net meer as nege-duisend-300 werksgeleenthede reg oor die Wes-Kaap. Die LUR vir Finansies en Ekonomiese Geleenthede, Mireille Wenger, sê dis duidelik dat die provinsie ‘n toerismebestemming van wêreldgehalte is met die beste brandewyn, wyn, kos en olyfolie:
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement sê hulle probeer verseker dat volwassenes wat antiretrovirale terapie ontvang, met hulle behandeling volhou deur ‘n teiken van 70-persent te bereik in die derde kwartaal. Die strategie sluit in gevallebestuur van nuwe pasiënte en voorligting oor die belang van behandeling. Die departement se waarnemende hoof, Khutso Rabothata, sê hulle het met multimaand-medisyne-uitreiking begin vir alle klinies-bestendige pasiënte, wat nou twee tot drie maande se voorraad antiretrovirale middels op ‘n keer ontvang:
# Die Olimpiese vlam word vandag in Griekeland aangesteek, waarna dit na Frankryk geneem sal word vir vanjaar se Spele in Parys. Die vlam word in Olimpia aangesteek waar die antieke Spele ontstaan het. Dit sal volgende Vrydag aan die organiseerders van die Spele oorhandig word in Athene, waar die eerste moderne Olimpiese Spele in 1896 gehou is. Van daar sal dit met ‘n 19de-eeuse vaartuig na Frankryk geneem word.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-93-sent teen die dollar, 20-rand-18-sent teen die euro en 23-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-842-dollar-22-sent. Die prys van goud is twee-duisend-348-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 89-dollar-61-sent per vat.
# En ter afsluiting, Suid-Afrikaanse kunstenaars ouer as 18 wat nog nie ‘n solo-uitstalling gehad het nie, word aangemoedig om in te skryf vir Sasol se New Signatures-kunskompetisie. Vanjaar se tema is Artikuleer, en fokus op die universele menslike begeerte na selfuitdrukking en verbintenis. Die voorsitter van die kompetisie, Pfunzo Sidogi, sê kunstenaars word uitgenooi om kunswerke in te skryf wat met unieke style en onkonvensionele tegnieke vervaardig is, en wat tradisionele grense en verwagtinge oorsteek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….