Nuus 13:00
BULLETIN 30 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Andrea Johnson en Feroz Khan is in hegtenis geneem
# Privaat operateurs sal spoorvragvermoë verhoog
# En rugby: Furlong word vrygespreek ná beweerde onbetaamlike optrede teen ‘n teenstander
# Die voormalige hoof van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie, Andrea Johnson, en die voormalige hoof van die polisie se Misdaadintelligensie-eenheid, Feroz Khan, is in hegtenis geneem op aanklag van regsverydeling. Dit volg ná getuienis voor die Madlanga-kommissie rakende ‘n e-pos van 2022 waarin Johnson na bewering besonderhede van ‘n aanrandingsdossier teen Khan van vier jaar tevore bekend gemaak het. Johnson het in Julie bedank, terwyl Khan ontslaan is. Die twee sal na verwagting vandag in die Landdroshof in Pretoria verskyn.
# Die regering het elf privaat spooroperateurs goedgekeur wat na verwagting vanaf April volgende jaar met hulle bedrywighede sal begin. Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, sê dit volg nadat vragvermoë die afgelope twee jaar met meer as 20-miljoen-ton toegeneem het. Die nuwe operateurs sal na verwagting nog 24-miljoen-ton byvoeg. Verteenwoordigers sê die herstel van spoor-infrastruktuur, betroubare dienslewering en beleggersvertroue bly noodsaaklik om logistieke koste te verlaag en die land se mynbou-, vervaardiging- en uitvoersektore te versterk.
# Die parlementêre gekose komitee oor Maatskaplike Dienste vra aanspreeklikheid en onmiddellike ingryping om swakhede in die openbare gesondheidstelsel te hanteer. Die Gesondheidsdepartement het die komitee ingelig oor sy jaarverslag. Die departement het sy ongekwalifiseerde ouditmening gehandhaaf en sy teiken bereik om 100-persent van geldige fakture binne 30 dae te betaal. Die komitee se voorsitter, Desery Fienies, sê hulle is bekommerd oor die gaping tussen begrotingsbesteding en die ervarings van staatsgesondheids-pasiënte:
# Rugby: Leinster se stut, Tadhg Furlong, is skotvry nadat hy beskuldig is van onbetaamlike fisieke kontak met ‘n teenstander in die Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd teen Munster. Hy is uitgewys en daar is verwag hy sal ‘n stewige skorsing ontvang. ‘n Tugverhoor het hom egter vrygespreek nadat bevind is daar was nie voldoende bewyse nie. Furlong is dus beskikbaar vir Ierland vir volgende maand se Nasieskampioenskapstoets teen die Springbokke in Dublin. Die Bok- en Bulle-stut Jan-Hendrik Wessels is verlede jaar nege weke geskors ná ‘n soortgelyke voorval.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-63-sent teen die dollar, 18-rand-62-sent teen die euro en 22-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-562-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-990-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 117-dollar-68-sent per vat.
# En ten slotte: CapeNature gaan handel in Kaliforniese koningslange in die Wes-Kaap oor twee jaar uitfaseer. Die proses het reeds op 1 April begin ná ‘n risiko-bepaling wat daarop dui dat die spesie moontlik ʼn indringer kan word. CapeNature se woordvoerder, Luke Folb, sê Kaliforniese koningslange word reeds sedert die 1980’s deur Suid-Afrikaanse slang-liefhebbers aangehou. Hy sê hulle volg ʼn gefasseerde benadering wat bestaande wettige permitte erken, maar ook die gevaar vir bioverskeidenheid in ag neem:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….