Nuus 13:00
BULLETIN 13 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ses mense sterf binne ‘n uur in twee brande in Kaapstad
# Vyf mense in Australiese winkelsentrum doodgesteek
# En, tennis: Djokovic haal vir ‘n rekord 77ste keer die halfeindstryd van ‘n Meesterstoernooi
# Vier mense is dood en vier ander het verskillende grade van brandwonde opgedoen toe ‘n brand vroeg vanoggend in ‘n huis in Bonteheuwel, Kaapstad, uitgebreek het. ‘n Woordvoerder van die stad se Brand- en Reddingsdienste, Jermaine Carelse, sê nog ‘n brand het die lewens van twee kinders in Khayelitsha geëis. In Bonteheuwel het brandbestryders op ‘n huis afgekom wat in vlamme gehul is:
# ‘n Onderwys-aktivis, Hendrick Makaneta, loof die minister van Hoër Onderwys en Innovering, Blade Nzimande, vir die aanstelling van ‘n geoktrooieerde rekenmeester om die sake van die Nasonale Studente Finansieringshulpskema te bestuur. Die aanstelling van die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters, Freeman Nomvalo, boesem vertroue in. Makaneta sê die skema se nuwe “polisiehoof” beskik oor ‘n rykdom van ondervinding, veral in die veld van finansies en ouditering:
Die vakbond vir staatsondernemings en tersiëre instellings, SAPTU, sê intussen hy is diep bekommerd oor die gebrek aan voldoende watertoevoer by verskeie kampusse van Hoër Onderwys-instellings. Hy wil hê die regering moet dringend stappe doen om te verseker alle instellings het voldoende water om doeltreffend te kan funksioneer. Die hoofsekeretaris van SAPTU, Ben van der Walt, sê die vakbond sal ook die bestuur bystaan in hulle pogings om voldoende en stabiele watervoorraad te verseker.
# Vyf mense is dood en verskeie ander, onder wie ‘n klein kind, is beseer toe ‘n man vandag in ‘n besige inkopiesentrum in Sidney verskeie mense aangeval het. Die Australiese polisie sê ‘n polisievrou het die onbekende aanvaller doodgeskiet. Die motief vir die aanval is steeds nie duidelik nie maar die adjunk-kommisaris van die Nieu-Suid-Walliese polisie sê “terrorisme” kan nie in die stadium uitgesluit word nie. Beeldmateriaal van sekuriteitskameras, wat deur plaaslike media versprei is, toon ‘n man met ‘n Australiese rugby-liga-trui wat met ‘n groot mes in die winkelsentrum rondhardloop.
# En, tennis: Novak Djokovic het vir ‘n rekordaantal van 77-keer ‘n Meesters-halfeindstryd gehaal toe hy die Australiër Alex de Minaur in skoon stelle in Monte Carlo geklop het. Die 36-jarige wêreld-nommer-een het die kwarteindstryd met 7-5, 6-4 gewen om vir die eerste keer sedert 2015 die halfeindstryd te haal. Hy het toe die tweede keer die toernooi ingepalm. Djokovic, die oudste man nóg wat die halfeindstryd in Monte Carlo tydens die Ope-era gehaal het, kom nou teen Casper Ruud van Noorweë te staan vir ‘n plek in môre se eindstryd.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….