Nuus 13:00
BULLETIN 23 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Suid-Afrikaanse Vrag- en Logistiekvereniging stel sy Gautengse tak bekend om vragvertragings te bekamp
# Trump oorweeg om militêre optrede teen Iran te hervat ná die middeltermynverkiesing
# En motorsport: Verstappen hoop om Antonelli die naweek in Austin te stuit
# Die Suid-Afrikaanse Vrag- en Logistiekvereniging het sy Gautengse tak van stapel gestuur met die doel om bedryfsverteenwoordiging te versterk, betrokkenheid met belanghebbendes te verbeter en grensvertragings en hawe-knelpunte aan te pak. Eric Pillay is die streekvoorsitter. Hy sê dit sal vrag-beweging verbeter en streeks-ekonomiese groei ondersteun. Die voorsitter, Arend du Preez, sê sterker streeksverteenwoordiging sal help om plaaslike oplossings te ontwikkel. Bedryfsleiers beklemtoon die belang van spoorhervorming, billike pryse en doeltreffende regulering om algehele doeltreffendheid te verbeter.
# Die Nasionale Tesourie vra openbare kommentaar op ‘n voorgestelde raamwerk vir klimaat-oorgangsbeplanning en openbaarmaking vir finansiële instellings. Die raamwerk het ten doel om banke, versekeraars en beleggers te help om klimaatverwante risiko’s te bestuur en befondsing te rig na ‘n ekonomie met laer koolstofuitstralings wat meer bestand is teen klimaatsverandering. Die Tesourie sê die voorstelle moet ontwikkelingsdoelwitte weerspieël, insluitend aanpassing by klimaatsverandering en ‘n regverdige oorgang na ‘n groener ekonomie. Belanghebbendes, ondernemings en lede van die publiek kan tot 10 Desember kommentaar en praktiese aanbevelings indien.
# Sonke Gender Justice veroordeel die ANC se nasionale voorsitter, Gwede Mantashe, se kru en minagtende reaksie op ‘n vraag deur ‘n Newzroom Afrika-joernalis oor bewerings dat munisipale raadslede in Noordwes seks eis van vroue in ruil vir werksgeleenthede. Mantashe het gereageer deur na vroulike geslagsdele te verwys. Die ANC het Mantashe intussen opdrag gegee om verskoning te vra. Bafana Khumalo van Sonke sê die uitlatings was onnodig, onvanpas en neerhalend:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, oorweeg blykbaar om militêre optrede teen Iran te hervat ná volgende maand se middeltermynverkiesing. Baie Amerikaners is teen die oorlog gekant, insluitend lede van sy eie Republikeinse Party. ‘n Meningspeiling van New York Times en Siena College toon 65-persent van deelnemers stem nie saam met Trump se hantering van die oorlog van byna agt maande, wat oliepryse opjaag nie. Hy sê die meeste mense ondersteun Amerika se optrede:
# Motorsport: Red Bull se viermalige Formule 1-wêreldkampioen, Max Verstappen van Nederland, is vasbeslote om te verhoed dat Mercedes se Italiaanse ster, Kimi Antonelli, die naweek in Amerika die bestuurders-kampioenskap beklink. Verstappen het die vorige twee wedrenne in Maleisië en Singapoer gewen en is tans vierde op die punteleer na die Britse jaers, George Russell van Mercedes, en Lewis Hamilton van Ferrari. Verstappen is 119 punte agter Antonelli, maar het steeds ‘n buitekans om die titel te wen, met nog vyf wedrenne oor ná die naweek se byeenkoms in Austin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-57-sent teen die dollar, 18-rand-55-sent teen die euro en 22-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-457-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-23-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 115-dollar-68-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….