Nuus 13:00
BULLETIN 22 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Fort Hare dank sy visekanselier af twee dae voor sy beplande vertrek
# Die media kry toegang toe tot gewese Staatsveiligheidsagentskap-amptenare se bedrogverhoor
# En rugby: Die Stormers-haker Kotzé is vir drie wedstryde geskors ná sy rooikaart teen Bristol Bears
# Die Universiteit van Fort Hare in die Oos-Kaap het sy visekanselier, Sakhela Buhlungu, afgedank twee dae voor sy beplande vertrek. Hy het verlede maand bedank. Die universiteitsraad sê in ‘n verklaring Buhlungu is skuldig bevind op twee aanklagte van wangedrag in verband met ongemagtigde aanstellings op uitvoerende vlak en uitlatings wat die instelling se naam skade berokken het. Hy is ook skuldig bevind aan verset teen gesag. Volgens die raad het sy optrede die vertrouensverhouding ondermyn. Buhlungu se diens is met onmiddellike ingang beëindig.
# Media- en burgerlike samelewings-organisasies het toegang verkry tot die verhoor van twee voormalige amptenare van die Staatsveiligheidsagentskap. Thulani Dlomo en Patrick Mshothola word aangekla van wanbesteding van 12-miljoen-rand. Die Hooggeregshof in Pretoria het op 14 Oktober beperkings op openbare toegang tot die verrigtinge geplaas, insluitend dat dele van die verhoor agter geslote deure moet wees. Die media is gevolglik vir drie verhoordae uitgesluit. Regter Mashudu Munzhelele het vandag ‘n aansoek toegestaan aan Media24, Daily Maverick, amaBhungane en die Campaign for Free Expression wat die vorige bevel uitgedaag het.
# Tshwane se burgemeester, Nasiphi Moya, sê hulle gee voorkeur aan gemeenskappe wat deur die uitbreking van maagdermsiekte getref is terwyl herstelwerk voortduur by Bronkhorstspruit se watersuiweringsaanleg. Die getal bevestigde gevalle het tot 433 gestyg en raak gebiede soos Bronkhorstspruit, Zithobeni, Dark City, Rethabiseng en Sokhulumi. Moya sê die metro is van plan om aanspreeklikheid te eis vir die mislukkings wat tot hierdie krisis bygedra het:
# Standard Bank sê die mini-begroting stuur ‘n positiewe boodskap uit oor fiskale bestendigheid, infrastruktuurbelegging en groter deelname deur die privaat sektor. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het bevestig staatskuld is besig om af te neem en verwys na ‘n infrastruktuurprojeklys van 217-miljard-rand deur die Infrastruktuurfonds. Umesh Madhav van Standard Bank sê die werklike maatstaf vir sukses sal wees die mate waarin hierdie ontwikkelings omskakel in tasbare groei vir klein- en mediumgrootte ondernemings:
# Rugby: Die haker JJ Kotzé gaan eers weer middel Desember vir die Stormers beskikbaar wees nadat hy vir drie wedstryde geskors is vir sy rooikaart teen Bristol Bears in Kaapstad. Hy is eers met ‘n geelkaart afgestuur, maar dis later opgradeer na rooi. Die Stormers het appelleer teen die voorgestelde skorsing, maar ‘n onafhanklike tugkomitee het dit bevestig na ‘n hersiening. André-Hugo Venter sal die nommer twee-trui dra in Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskaps-tuiswedstryd teen die Walliese span Scarlets.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 18-rand-50-sent teen die euro en 22-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-772-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-87-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 113-dollar-34-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….