Nuus 13:00
BULLETIN 6 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkpresident Paul Mashatile herbevestig Suid-Afrika se veroordeling van Israel se aanslag teen Palestynse burgerlikes
# Die Departement van Basiese Onderwys brei die loodsprojek van die nuwe Algemene Onderwyssertifikaat uit voordat dit in 2025 ingestel word
# En, fietsry: Die verdedigende kampioen mag die Tour de France dalk misloop na ‘n gru-ongeluk
# Adjunkpresident Paul Mashatile herbevestig Suid-Afrika se veroordeling van Israel se aanslag teen Palestynse burgerlikes, en bevestig onwrikbare steun vir Palestina se stryd teen apartheid en volksmoord. Mashatile het gepraat op die Iftaar-aandete van die Moslem Geregtelike Raad in Kaapstad. Hy vra solidariteit met die mense van Palestina en beklemtoon die behoefte aan dialoog om verdeling in Suid-Afrika te voorkom. Hy vra ook gesamentlike optrede om die humanitêre krisis in Gaza te verlig:
# Die Departement van Basiese Onderwys brei die loodsprojek van die nuwe Algemene Onderwyssertifikaat uit voordat dit in 2025 ingestel word. Die sertifikaat, gemik op graad 9-leerders, sal ‘n gestandardiseerde kwalifikasie bied om werksvooruitsigte of kanse op verdere studie te verbeter. Die hoofdirekteur vir Kurrikulum en Implementering-monitering, Moses Simelane, sê die gehalte van die kwalifikasie word verseker deur Umalusi. Hy beklemtoon ook die sertifikaat is nie ‘n uitgangs-kwalifikasie nie:
# Die minister van Menslike Nedersettings Mmamoloko Kubayi wil die heraanwending sien van regeringsgeboue vir werknemersbehuising. Sy het gepraat op die Beboude Omgewing-indaba van die Black Business Council, en gesê die stap kan bekostigbare behuising verskaf naby werkplekke in Tshwane, Johannesburg, Kaapstad en Durban. Die inisiatief fokus op middestad-herlewing om aan behuisingsbehoeftes te voldoen én die boubedryf ‘n hupstoot te gee:
# Slowake stem vandag vir ‘n nuwe president met die uitkoms wat sal bepaal of die EU- en NAVO-lid nader aan Rusland sal beweeg. ‘n Sestig-jarige pro-Westerse voormalige Buitelandse Sake-minister, Ivan Korcok, en die 48-jarige Peter Pellegrini, ‘n skeptikus oor Oekraïne gesteun deur die regerende populiste, ding mee om die liberale president Zuzana Caputova te vervang. Hulle is in ‘n beslissende tweede ronde omdat nie een van die twee verlede maand die minimum 50-persent kon inwin nie. AFP berig ‘n finale voorverkiesing-meningspeiling plaas Korcok en die parlementêre speaker Pellegrini kop-aan-kop.
# En, fietsry: Die deelname van die verdedigende kampioen, Jonas Vingegaard, aan vanjaar se Tour de France, is in gedrang nadat hy gedurende ‘n wedren in Spanje veelvuldige beserings opgedoen het. Die Deense atleet het ondermeer ‘n sleutelbeen en verskeie ribbes gebreek. Twee ander wenners van die Grand Tour, Primož Roglič van Slowenië en Remco Evenepoel van België, is ook gedurende die ongeluk tydens die vierde skof van die Itzula Basque Country-fietsren beseer. Die Tour de France begin op 29 Junie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….